E Copy

Date:

Oranje-hokkie-eerstes oorheers wéér

RUFUS BOTHA

Die eerste hokkiespan van die Hoër Meisieskool Oranje is hierdie jaar een van die allerbestes wat die skool in sy roemryke hokkiegeskiedenis opgelewer het. Dié span is waarskynlik die beste ooit.

Heelparty hokkiegeesgenote uit vroeëre eras mag van hierdie gewaagde stelling verskil, maar die teendeel gaan moeilik bewys word. Veral in die lig gesien hoe Oranje vanjaar met die bestes in Suid-Afrika afgereken het.

Dit grens aan ongelooflik hoe Oranje vanjaar by toernooie, soos die St. Mary-toernooi en All Girls Festival, grootnaam-hokkieskole geklop het met skitterende én bestendige spel.

Oranje het Donderdag, Vrydag en Saterdag tydens die Top-8-toernooi weer van die beste hokkiespanne in die land ore aangesit.
Oranje het in die eindstryd teen St. Mary (Waverley) die eerste Top-8-titel met 2 – 1 beklink. Die eindtelling klink gering, maar die opmars na die eindstryd lees soos ‘n sprokie.

Hulle het in die sewe rondomtaliewedstryde, halfeindstryd en eindstryd (nege wedstryde) ‘n ongekende 32 doele aangeteken en slegs vyf afgestaan. Dit is ‘n afgeronde 4 – 1 hokkiewiskunde-gemiddeld per wedstryd.

Die sprokie het begin toe Oranje vir DF Malan (Kaapstad) in hulle eersteronde-wedstryd met 4 – 0 kafgedraf het. Daarna was dit kuikenmoord (9 – 0) teen die Hoërskool York (George).

Oranje het toe ‘n effense tammeletjie beleef teen die krag van Clarendon van Oos-Londen (1 elk). Die Bloemfonteiners was egter gou weer in beheer, dié keer teen St. Stithians (Johannesburg) met 5 – 0.

In die vyfde ronde het Oranje teen St. Mary te staan gekom en soos in die eindstryd met 2 – 1 geseëvier. Daarna was dit Durban Girls’ College se beurt om die onderspit te delf met 3 – 1.

In die sewenderonde-wedstryd het die ander hokkiekrag van Bloemfontein, Eunice, probeer om ‘n stokkie voor algehele Oranje-oorheersing te steek, net om 2 – 0 te verloor.

Terloops, Eunice is volgens www.saschoolssport.co.za die tweede beste (Oranje is nommer 1) in die land en Durban Girls’ College derde beste. St. Mary is vierde op die einste ranglys.

Oranje het hierna in die halfeindstryd weer met St. Stithians kragte gemeet en hulle 4 – 1 verslaan.

Eunice het tot die ander halfeindwedstryd deurgedring, maar vasgeval (2 – 4) teen St. Mary.

Dit het al bykans tradisie geword dat Oranje se kaptein en SA skolespeler, Antonet Louw, die eerbewys ontvang as beste speler by toernooie. Die Top-8 was geen uitsondering nie.

Louw is deurgaans goed bygestaan deur Mirie van Niekerk, Prisilla Esterhuyse en Marli van Deventer wie se puik stokwerk indrukwekkend was.

Share post:

Popular

More like this
Related

Filmmakers and activists invited to apply for NFVF GBV screening grants

The National Film and Video Foundation (NFVF) has made...

Water wasted for days in Martindale

A resident reported a water leak persisting for over...

MMM Faces Public Outcry Over Cosafa Tournament

The recent announcement by the Mangaung Metro Municipality (MMM)...

Eunice and Oranje share the spoils

Eunice Girls’ High School will head to Pietermaritzburg this...