GEORG VAN ECK
Tenniskampioene van die toekoms sal waarskynlik van 16 tot 18 Mei in die McDonald’s Amanda Coetzer-tennistoernooi vir laerskoolmeisies in aksie wees.
Ses skolepanne van sewe spelers elk neem vanjaar aan tennistoernooi van die Laer Meisieskool Oranje in Bloemfontein deel en 42 spelers sal dus in aksie wees.
Dit is die 12de keer dat die gewilde jaarlikse toernooi vir laerskool-meisiespanne op die bane van Oranje in die Rosestad plaasvind.
Die skole wat in aksie sal wees, is: Oranje, Stellenbosch, Eikestad, Curro Hazeldean, Louw Geldenhuys en Truida Kestell van Bethlehem.
Die spanne sal in enkelspel- en dubbelspel-wedstryde teen mekaar meeding en die span wat die meeste punte vir hul skool insamel, ontvang Saterdag die gesogte trofee tydens ’n dinee by die skool.
Die amptelike opening van die toernooi vind op Donderdag, 16 Mei om 08:30 plaas en Oranje sal die titel wat hulle verlede jaar verower het verdedig.