Opwindende leesstof vir die nuwe jaar

0
504

Maricelle Botha

Opwindende uitsigte lê voor vir boekwurms vanjaar. Daar is talle nuwe boeke wat binnekort op die rak verskyn. Wat ookal jou belangsteling, daar is iets vir ieder en elk. Courant het ’n bietjie met Protea Boekhuis se Magda de Vries gesels om te hoor wat op haar moet-lees-lys vir 2013 is. Sy meen die volgende boeke moet beslis voor uitgekyk word.  Asterix in Afrikaans! Asterix die Galliër is die eerste boek in die gewilde Asterix-reeks. In Asterix die Galliër slaag ’n spioen om die Galliese dorpie waarin Asterix woon, binne te dring. Kasterolix, die druïde, word gevange geneem.

Asterix en die goue sekel is die tweede boek in die Afrikaanse vertaling van die gewilde Asterix-reeks. Kasterolix, die druïde, se goue sekel het gebreek en hy het dringend ‘n nuwe een nodig om voëlent vir sy towerdoepa te sny.  Klinx-Klinx die sekelmaker is egter ontvoer en dis Asterix en Obelix se taak om hom uit die kloue van die sekelsindikaat te red. Portrait of a Slave Society: The Cape of Good Hope 1717 – 1795 is nuut uit die pen van gevierde skrywer Karel Schoeman. Dis ’n lywige historiese skrywe van 1 344 bladsye. Hierdie is die opvolg van Schoeman se Early Slavery at the Cape of Good Hope wat ook navorsing bevat slawerny gedurende die 17de en 18de eeu aan die Kaap.

Dan is daar ook The Best Kept Secret van Jeffrey Archer en The Storyteller deur Jodi Picoult waarvoor lesers beslis kan uitkyk.
Irma Joubert se Tolbos, die opvolg van Tussen Stasies is ook binnekort beskikbaar. En as jy een is wat elke aand ná werk jou moet bekommer oor wat jou gesin eet, kry gerus Kos as dit knyp deur Emilia le Roux. Hier kry jy wenke oor hoe jy gou goedkoop én gesonde kos kan maak. Vegter en Balling deur Chris Schoeman is nog ’n geskiedskrywe wat nie gemis moet word nie. Dit handel oor die krygsgevangenes van die Anglo-Boereoorlog.Veldkornet Charles von Maltitz se merkwaardige dagboek, bied ’n blik op wat gevangenes in die kampe in Groenpunt, St. Helena, Ceylon, Indië en elders deurgemaak het. Vir die meeste het dit fisieke ontberings en emosionele swaarkry gebring, vir sommiges selfs die dood.

Wolf, wolf deur Eben Venter is ’n diepsnydende ondersoek na die verhouding tussen pa en seun, ná die ontreddering van ’n man wat bitter min uit die verlede kan neem om hom toe te rus vir ’n lewe in ’n snel veranderende bestel. Intens. Ontstellend.
Fanie Viljoen se Pleisters vir die dooies is ’n jeugverhaal wat lesers gaan skok en ontstel – dalk nog meer as die eertydse BreinBliksem. ‘n Nuwe Grilboek saamgestel deur Francois Bloemhof, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen is ook eersdaags beskikbaar.
Rooiman Jan Alleman van François Loots beloof ook om jou ’n kreatiewe, fiktiewe blik te gee op die lewe van Afrikaner-kommunis en struggle-held Bram Fischer.