Owen Kock
Temperature draai tans in die diep dertigs en boere in die Vrystaat het dringend opvolgreën nodig. Die situasie is egter darem nog nie kritiek nie. Dis die mening van die hoofbestuurder van Vrystaat Landbou, Henk Vermeulen. Hy het aan Courant gesê daar is wel sekere dele van die provinsie wat goeie opvolgreën gehad het, maar nóg is dringend nodig.
“Ek weet in sekere dele van die Vrystaat was daar aanvanklike reën, maar dan was daar nie opvolgreën nie; die groen gras wat uitgekom het, het net eenvoudig dood geskroei. Dit het boere ’n hele paar maande terug gesit, so asof dit nooit gereën het nie. “In die stadium van die geveg is dit die dilemma wat gesit mee word deur veral die ouens wat met weiding sit. Ek moet egter sê saam met die hittegolf wat ons tans ervaar het daar wel ’n paar druppels geval,” het Vermeulen gesê. Intussen het die Suid-Afrikaanse Weerdiens ’n waarskuwing uitgereik vir weghol brande in Sentraal Suid-Afrika. Die Bloemfonteinse weerkantoor sê toestande wat gunstig is vir die ontstaan van brande word ervaar in Noordwes, noord-westlike dele van die Vrystaat en noord-oostelike dele van die Noord-Kaap.
Dié gebiede ervaar tans warm, droë en winderige toestande. Bewolkte en reënweer word vanaf môre in die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes verwag. “Vir die wat so ’n bietjie reën gekry het is dit nie ’n krisis nie, want hul weiding kom mooi deur, maar vir jou vee gedeeltes wat nie opvolgreën gekry het nie, hulle is weer in ’n krisis,” het Vermeulen bygevoeg.
In die Vrystaat het die kwik só hoog gestyg, dat gewasse op landerye selfs onder besproeiing geskroei het, en ook daardie boere het ’n knou gekry.
“Die hitte het nou wel nie so lank gehou nie, maar dit het die aarde uitgedroog en die plante het baie water nodig. Daar is ook gevalle waar ouens regtig swaar kry. Oor die grootste gedeelte van die Vrystaat lyk dit mooi, maar ons sal dringend reën moet kry. Ek sal nog nie sê dit neem krisis afmetings aan nie, maar dit kan doen met reën. In sekere gevalle kan ’n ou vir jou sê hulle bevind hulle waar hulle weer moet voer aanplant, en hoewel die groen gras mooi uitgekom het, is dit ook dit weer verskroei,” het Vermeulen volstaan.