Oppas vir leë beloftes

0
107
Photo: How To Become

Rugby word op ‘n plat, gelyk, grasoppervlak gespeel deur twee spanne wat halftyd kante ruil. Nie een van die twee spanne kan in enige stadium van die wedstryd kla dat hulle die “swak” kant van die veld gehad het of dat hulle teen die wind moes speel nie, want halftyd ruil die spanne kante en ervaar die een wat die ander die eerste helfte ervaar het.

Die speelveld is dus gelyk, lui die gesegde. In die beleggingsomgewing is dit dieselfde, die speelveld is ook gelyk. Daar is baie rolspelers op die beleggingspeelveld, waarvan twee van hulle jyself en jou finansiële beplanner is. Jy ervaar die laaste paar jaar (en steeds), ondergemiddelde opbrengste op jou aftreefonds, uittree-annuïteit, lewende annuïteit of enige ander tipe beleggingsproduk wat jy het. So ervaar almal rondom jou dieselfde – want die beleggingspeelveld is gelyk. Jou finansiële beplanner het dieselfde produkte, beleggingsfondse ensomeer tot sy beskikking as wat jou buurman se finansiële beplanner tot sy beskikking het (byvoorbeeld, daar is net 40 aandele in die Top 40-indeks, en vir almal is dit dieselfde 40 aandele).

Of jy dus maatskappy A, B of C se aandelefonds of eiendomsfonds gebruik, maak nie saak nie, die resultaat sal min of meer dieselfde wees. Daar is egter tans ‘n gevaar wat sy kop begin uitsteek in die huidige onsekere beleggingsomgewing. Dit is om met ‘n terugblik (hindsight) na die beleggingsomgewing te kyk. Indien jy dus die nodige fasiliteite tot jou beskikking het, is dit maklik om te gaan kyk in watter bateklasse of beleggingsfondse jy jou geld moes belê het om beter opbrengste te kon verdien. Net so kry jy tans finansiële beplanners wat die funksionaliteit van “hindsight” misbruik om jou en jou besigheid weg te rokkel van jou huidige finansiële beplanner.

Jy as ‘n belegger is reeds moedeloos oor die swak opbrengste. Ek, en enige ander finansiële beplanner, is bewus van jou negatiwiteit. Ek kan dus nou gaan kyk waar sou jy die beste opbrengste verdien het oor die laaste paar jaar en dit doodeenvoudig met jou huidige belegging vergelyk en dit as my aanbeveling voorhou.

Die meeste van die tyd gaan jy die sogenaamde “beter alternatief” as jou uitkoms na beter opbrengste aanvaar en jou besigheid wegskuif van jou huidige finansiële beplanner af. Soos ons weet, wanneer dit by beleggings kom, herhaal die geskiedenis hom selde, en kort voor lank sal jy weer in dieselfde bootjie wees en swak opbrengste verdien, want markte het weer gedraai.

Oppas vir finansiële beplanners wat jou finansiële beplanner se advies slegpraat, net om so jou besigheid te wen. Dit is oneties. Indien jou finansiële beplanner goed gekwalifiseerd is, ervare is en sin maak, bly by hom of haar, jy kan sy of haar advies vertrou.

horace@nassaux.com