Oppas vir die truspieëltjie-sindroom

0
249
Photo: Lawrence Journal-World

Jy kan nie vorentoe ry met jou motor deur heeltyd in die truspieëltjie te kyk nie. Jy gaan vir seker ‘n ongeluk veroorsaak.

Jy kan nie die pad vorentoe vir jou belegging bepaal deur besluite te neem wat op inligting uit die verlede gegrond is nie. Selfs gister se ekonomiese en markinligting is verouderd en dinge kan reeds vandag anders lyk.

Beleggingsbesluite bly maar ‘n moeilike besluit, gegewe dat daar so baie veranderlikes is. Verlede week het ons gesels oor die beleggers wat op die verkeerde tyd uit hul markverwante beleggings verkoop, net om hul papierverlies ‘n werklike verlies te maak.

Meestal verkoop beleggers op verkeerde tye uit markverwante beleggings juis omdat hulle besluite neem op grond van inligting uit die verlede. Met ander woorde, beleggers aanvaar dat die negatiewe marktoestande van die verlede in die toekoms gaan voortduur. Emosies van vrees bepaal dan die besluite wat geneem word.

Dieselfde gebeur wanneer marktoestande positief is en opbrengste goed lyk. Beleggers weier dan om bietjie wins te neem en beleggingsrisiko te verminder, want hulle glo weer eens die uitstekende groei van die verlede gaan in die toekoms voortduur. Emosies van gierigheid bepaal dan die besluite wat geneem word.

As ons kyk wat tans in die mark gebeur, skuif beleggers etlike miljoene rande uit markverwante beleggings na geldmarkfondse en inkomstefondse. As ons in die truspieëltjie gaan kyk, sal ons sien dat die beste plek om die laaste drie jaar of wat te gewees het juis geldmarkfondse en/of inkomstefondse was.

Dus is beleggers se gedrag eintlik voorspelbaar. Beleggers aanvaar tans dat die negatiewe marktoestande van die laaste drie tot vier jaar in die jare wat kom, sal voortduur. As mens egter gaan kyk na wat die top-batebestuurders in Suid-Afrika tans verwag, sien jy ‘n ander prentjie.

Batebestuurders is oor die algemeen van mening dat daar eerder wegbeweeg moet word van vasterentebeleggings na aandele, spesifiek plaaslike aandele. Die rede hiervoor is juis omdat batebestuurders nie in die truspieëltjie kyk nie.

Dit wat laasmaand, laasjaar of die laaste drie jaar gebeur het, is irrelevant. Wat wys die syfers jou vandag? Waar gaan waarde ontgin kan word in die volgende paar jaar? Oppas dus vir die truspieëltjie-sindroom, hou eerder jou oë op die pad vorentoe.

horace@nassaux.com