
Na jare van vele klagtes uit die gemeenskap oor swak diens en ‘n tekort aan behoorlike infrastrukuur by die Opkomskliniek in Heidedal, gaan die kliniek uiteindelik opgeknap word.
Volgens die DA-raadslid van Wyk 47, John de Bruin, gaan die ou kliniek binnekort heeltemal platgevee word om plek te maak vir ‘n splinternuwe kliniek wat beter in die gemeenskap se behoeftes sal voorsien. De Bruin het gister eksklusief aan Voice bevestig dat die herbou van die kliniek in die pyplyn is.
“Ons het reeds verskeie vergaderings gehad. Die volgende vergadering is op Donderdag 31 Mei. Ons sal dan die kontrakteur ontmoet wat die bouprojek gaan aanpak,” sê De Bruin.
Die projek sal bestaan uit die sloping van die huidige gebou op die perseel. Die struktuur sal dieselfde bly, maar alles gaan opgegradeer word. Binnekant sal dit weer splinternuut lyk. Die dak sal ook nie meer uit gewone dakteëls bestaan nie en sal gebou word met gietyster en sink wat dit sal beveilig en verhoed dat mense in die kliniek kan inbreek. Daar sal ook drie permanente mobiele klinieke wees sodat diens vinniger gelewer kan word.
“Vir die tyd wat die kliniek onder konstruksie is, sal daar mobiele klinieke aan inwoners beskikbaar gestel word. Vroue sal na die Pelonomi-hospitaal kan gaan vir papsmere,” sê de Bruin.
As die beplanning goed verloop, behoort die sloping van die kliniek binne die volgende maand te begin. Die projek sal sowat agt maande duur. Daar word versoek dat alle belanghebbendes volgende week Woensdag, 30 Mei, by die Norman Doubell-saal vergader wanneer daar besluit sal word oor ‘n bestuurskomitee vir die kliniekprojek. Die stand van sake met die herbou van die Laerskool Joe Solomon sal ook bespreek word.
JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za