Opgeknapte parkie bring groot vreugde

0
1953

LOUZANNE COETZEE

Inwoners van Westdene het verlede week gesien hoe ‘n asvaal, verwaarlose parkie in Brillstraat bykans oornag ‘n splinternuwe baadjie aangetrek het.

Hoewel die parkie deur talle gebruik word, was die instandhouding daarvan die afgelope tyd nie na wense nie.
Danksy ‘n nuwe inistiatief wat in September vanjaar in die park van stapel gestuur is, het inwoners van die buurt, of eerder drie plaaslike vroue, die parkie weer hul eie gemaak.

"Johannesburg, Kaapstad, Durban – almal het mooi markte. Hoekom moet ons Bloemfonteiners so ver ry vir mooi?"
Suzaan Pretorius, Marlien en Tanya Kleynhans het hulleself hierdie vraag afgevra. Die drie vroue het besluit daar is geen rede hiervoor nie en toe vir Bloemfontein sy eie mooi mark gegee.

Op die eerste Saterdag van elke maand word die Westdene Park Market aangebied met interessante uitstallers, heerlike kos en ‘n ongelooflik lekker, vars gevoel.

Hierdie ma en twee dogters, saam met ‘n baie behulpsame munisipaliteit, het ook onlangs besluit om ‘n stappie verder te gaan en die park te verf. In lieflike pastelkleure getooi lyk dit nou sommer tonne beter as tevore.
"Ons wil hê die park moet gebruik kan word selfs op dae wanneer daar nie ‘n mark is nie, ons wil graag die park verbeter," verduidelik Pretorius, die oudste dogter.

"Dit was ‘n seëning om met die munisipaliteit saam te werk. Hulle het ons regtig ondersteun met die oorverf van die parkie."
Pretorius, haar ma en haar sussie wil graag die mark verder laat groei. Hulle het tans ongeveer 60 uitstallers en sal dit graag in 2015 wil uitbrei na 100. Hulle soek jong, nuwe opkomende uitstallers om die mark se produkte uniek en anders as die van ander markte in Bloemfonteinn te maak. Uitstallers stuur vir hulle foto’s en sy en haar sussie, Tanya, argitektuurstudent aan die universiteit van die Vrystaat, besluit dan wie by die mark kan uitstal.

Die laaste mark vir die jaar word op 6 Desember tussen 9:00 en 15:00 gehou.
Vir meer inligting oor die mark kontak Pretorius by westdeneparkmarket@gmail.com.

info@centralmediagroup.co.za