Die Departement van Korrektiewe Dienste in die Vrystaat en Noord-Kaap het vandag op die bekendstelling van Operasie Vala by die Grootvlei-gevangenis buite Bloemfontein gesê 2015 was ‘n jaar vol uitdagings.
Operasie Vala is ‘n program wat oor 50 dae strek en op 13 Januarie volgende jaar ten einde loop. Die program is daarop gemik om te verseker daar is geen ontsnappings tydens die feesseisoen in dié twee provinsies nie.
Die program is reeds sedert 2005 in plek. Volgens die adjunk-kommissaris van korrektiewe dienste, Grace Molathedi, was daar vanjaar heelwat ontsnappings. Elke ontsnapping is een te veel en hulle wil dit met Operasie Vala bekamp.
“Ons het lesse geleer uit die getal ontsnappings vanjaar. Dit is een van die redes hoekom ons hier is vandag, om die sekuriteitsmaatreëls by verskeie tronke in die Vrystaat en Noord Kaap op te skerp,” sê Molathedi.
Intussen het die streekkommissaris van korrektiewe dienste, Subashini Moodley, ‘n waarskuwing aan korrupte amptenare gerig.
“Oor die algemeen gee ons amptenare hul bes. Hulle werk in uiters moeilike omstandighede. Jy werk met kriminele en amptenare word op ‘n daaglikse basis aangeval. Ek haal my hoed vir hulle af. Diegene wat nie die basiese prosedures volg nie, sal die gevolge daarvan moet dra,” sê Moodley.
Moodley vra ook dat die gemeenskap sal help om te verseker dat daar nie enige ongerymdhede plaasvind nie.
“Ons vra dat familie en vriende meer moet kom kuier om te help met die rehabilitasie van oortreders. Ons vra egter dat die gemeenskap nie tot enige ongerymdhede moet bydra deur enige verbode items vir gevangenes in te smokkel nie.”
Gevangenes sal ook aan meer aktiwiteite binne die gevangenis blootgestel word om te verseker dat oortreders besig gehou word tydens die feesseisoen.
-Mark Steenbok/Owen Kock