E Copy

Date:

Operasie bied hoop vir Janique

Die sewejarige Janique Venter veg al jare lank dapper teen ’n gewas in haar nek. Dié gewas het nou na haar brein versprei, wat verdere operasies deur ’n hoogs bekwame chirurg van Kaapstad vereis. Hierdie operasie is nie ’n eenmalige prosedure nie en vorm deel van ’n uitdagende stryd vir Janique en haar ouers, Jacques Venter en Nadine Mukheibir.

Danksy die ondersteuning van verskeie organisasies het Janique die nodige finansiële hulp ontvang om voort te gaan met haar geveg teen neuroblastoom. Haar pa het met Bloemfontein Courant gesels oor haar toestand, haar veggees en die bydrae van die Pace Foundation, wie se bingoaand Vrydag (31/10) mense sal byeenbring om kinders met kanker te ondersteun.

Ná haar behandeling vroeër vanjaar in die VSA bly die gesin positief dat Janique sal herstel. “Hulle kon dit nie verwyder nie, omdat die gewas teen haar brein en membraan is,” sê Venter. Weke gelede het die gesin verdere slegte nuus ontvang toe hulle uitgevind het die gewas het deur haar breinmembraan versprei.

Hoewel Janique steeds siek is, beskryf haar pa haar as ’n “yster”. “Sy veg elke dag deur geloof en gee alles om aan te hou baklei. Niks kry haar onder nie en sy bly sterk met die mooiste glimlag.” Volgens Venter het geen behandeling of bestraling tot dusver gewerk nie, en ’n operasie is tans die enigste opsie. “Ons het alle vorms van chemoterapie probeer, regoor die wêreld, en niks het gewerk nie. Al wat nou gedoen kan word, is om dit te probeer wegsny en versmoor.”

Venter glo die komende operasie sal die een wees wat haar genees. “Janique se storie gaan ’n getuienis wees dat die Here bestaan, en ons as ouers staan rotsvas agter Hom. Ons het geen twyfel dat sy dit gaan maak nie.”

Oor die Pace Foundation sê Venter: “Hulle ondersteun ons nie net nie, hulle dra ons. Dewald en Yolandi Fourie van die stigting is uitstekende mense. Die Pace Foundation is die belangrikste stigting wat ons help met bydraes vir Janique se fondse, en ook vir ander kindertjies met kanker en ander toestande.”

Vrydagaand bied die Pace Foundation ’n bingo-aand aan om geld in te samel vir Janique en twee kinders wat doof is, asook ander kinders met verskeie behoeftes. “Dit gaan nie net oor my kind nie, dit gaan oor almal se kinders,” sê Venter. “Ons het ook nie net ’n hart vir een kind nie, ons het ’n hart vir almal se kinders.” Volg die Pace Foundation op Facebook om betrokke te raak en ondersteuning te bied vir Janique en ander kinders wat hulp benodig.

 

Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za

Share post:

Popular

More like this
Related

Aunt arrested after missing toddler found dead

The Free State police have confirmed the tragic discovery...

Veterane by Oorlogmuseum byeen vir Herdenkingsondag 2025

Veterane van verskeie militêre takke het Sondag (9 November)...

Police step up water safety in Free State

Despite a steady decline in recent years, the Free...

Bloem-gesinsman verower wêreld se topmarathons

'n Bloemfonteinse geoktrooieerde rekenmeester en gesinsman het pas een...