Oor lasposte wat ‘omgee’

0
298

Bliksempos is ‘n pragtige Afrikaanse woordeboekwoord vir “junk mail”. Want elke oggend as ek my rekenaar aanskakel om na my e-posse te kyk, is ek onmiddellik de bl*ksem in oor al die gemorspos. In die woordeboeke is daar ook nog die woord rommelpos, wat heel beskrywend is.

Ek het nooit besef dat die woord “spam”, wat orals gebruik word, van ‘n Monty Python-skets af kom nie. Daardie toneeltjie in die restaurant, waar elke item op die spyskaart “spam” bevat, is alombekend by Python-aanhangers. As die kelnerin die woord herhaal, begin ‘n groepie Vikings by ‘n tafel in die hoek luidkeels sing: “SPAM, SPAM, SPAM, lovely SPAM! Wonderful SPAM!”

Dit bly vir my interessant dat daar op een van my twee e-posadresse byna nooit enige gemorspos deurkom nie, maar op die ander een is daar elke dag ‘n ellelange lys lasposte se e-posse. (Laspospos dalk?)

Gewoonlik vee ek alles summier uit sonder om selfs na die opskrifte te kyk. Maar net hierdie week besluit ek om versigtig nader kennis te maak. En toe word dit ‘n baie interessante ontdekkingstog.

Ene Kathleen Smith wil graag vir my raad gee oor hoe om van my moesies ontslae te raak. Haar onweerstaanbare opskrif is: “All Your Moles Gone Fast”. (Of bedoel sy dalk my molle? Ek was skrikkerig om wild en wakker te kliek op haar skakels. Het ons molle in Bloemfontein?)

Dan is daar ‘n kêrel genaamd “Herculis” wat my probeer lok met die opskrif “Discover Anti-Aging Secret”. Hy praat ook van ‘n “No Wrinkle Formula”. Ek wou eers terugskryf met my eie opskrif, iets soos THAT SHIP HAS SAILED, maar toe bedink ek my.

My gemorsposvriende is rêrig bekommerd oor my welstand. Hulle bied hulp aan met my snorkery, my dreigende suikersiekte, my suisende ore (dis blykbaar wat “tinnitus” beteken), en selfs my nael-swamme.

En dan is daar die een wat my boepens gaan kleiner maak en die ander een my penis gaan groter kry (binne net twee weke, “Guaranteed”!)
Dis lekker om te weet daar’s nog mense wat omgee.

Albé Grobelaar