Oom Wollie vertel sy onthou-dinge deur video’s

0
291
Oom Wollie vertel deelde sy stories op Facebook en Youtube

Wolraadt de Jager (65), beter bekend as Oom Wollie, vermaak deesdae mense met sy gewilde video’s op YouTube nadat hy vir 35 jaar lank op verskeie treinstasies in verskillende dorpe in die Noord-Kaap en Vrystaat gewerk het voordat hy in 2010 afgetree het as stasiemeester in Bloemfontein.

De Jager het aan Bloemfontein Courant vertel hy het oor die jare soveel dinge beleef op al die dorpe waar hy gewerk en gewoon het, dat hy nou, hier in sy senior jare, sy onthou-dinge aan sy tydgenote en andere, wil oorvertel. Hy voel ook glad nie oud nie, eerder soos 55, sê hy en verduidelik dat ‘n slim man, wat spreekwoorde sit en uitdink, lank gelede eendag gesê het, “jy voel net so oud soos die vrou aan wie jy vat.”

Volgens hom was die lekkerste van al die plattelandse dorpies waar hy gewerk het, die mense, “dierbare, snaakse en vreemde karakters, die sout van die aarde.”

De Jager het aan die idee van die video-storietjies gekom tydens een van hy en sy vriende se Saterdagbraaie. “Oom Johan Strauss het eendag gesê ek moet dat Kleinseun die staaltjies opneem, dan deel ons dit met die hele land.”

Hy het toe besluit om sy kleinseun, wat ‘n duur slimfoon het, te vra om hom af te neem wanneer hy sy staaltjies vertel. “En dit is nou hierdie storie-video’s wat ek elke tweede Maandag sedert Augustus op my Facebook-blad geplaas het en ook in September gaan plaas. Niks opspraakwekkends nie, dis maar net die herinneringe van ‘n afgetrede spoorweg- amptenaar,” vertel hy.

Op die vraag wat hy nou doen, sê hy, “Noudat ek ‘n afgetredene is en volgens die samelewing in die kategorie van senior burgers val, beteken dit nie dat ek ledig
by die huis rondsit en die honde irriteer met ‘n balgooiery nie. O nee, ons is besig, jong. Soos Woensdae byvoorbeeld. Dan is dit mos ‘pensioners’ day’ by Pick n Pay, jy weet, daar waar Ma pick en Pa pay. Dan is ek daar om teen oumens-afslag ‘n braaipak te koop, want Saterdae is dit braaidag saam met die pêlle.”

Sy eerste vertelling gaan oor ‘n “opspraakwekkende huismoles wat in 2005 in Upington afgespeel het – ‘n huismoles wat van die dominee se kerkkantoor af reguit tot in die skeihof geloop het.”

Mense kan Oom Wollie se stories gaan kyk op YouTube: https://youtu. be/x_4TN9zkAL8 asook op sy Facebook- blad op die volgende twee skakels: fb.me/ oomwollie en https://www.facebook.com/ oomwollie/.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za