Oom Jan se stem stil na 17 jaar

0
Oom Jan se stem stil na 17 jaar
Oom Jan

Bella Casa Trattoria Restaurant se Facebookinskrywing lees: “RIV Jan de Beer. Jy het ons Vrydagmiddag verlaat na ‘n harde maar vinnige stryd teen kanker. Jy was ‘n karakter! Jy het vir 17 jaar met trots na ons karre gekyk of die son geskyn het en of dit gereën het. Jou Bella familie mis jou alreeds. Ons dank jou vir jou diens. RIV oom Jan.”

Jan Christiaan de Beer het sowat drie weke gelede op ‘n Vrydag by die werk inmekaar gesak. “Hy is alreeds vanaf Desember nie lekker nie, maar so hardkoppig soos wat hy was, wou hy nie dokter toe gaan nie,” vertel Nicola Brackenridge, die eienaar van Bella Casa.

Hy is in 3 Militêre Hospitaal opgeneem waar hy gediagnoseer is met Fase 4 Longkanker wat vinnig na die res van sy liggaam versprei het. “Die personeel van die hospitaal het bitter mooi na hom gekyk. Hulle het met omgee na hom omgesien tot op sy laaste waar hy sy laaste asem op 17 Junie op die ouderdom van 73 uitgeblaas het.”

Nicola se hart is seer terwyl sy Bloemfontein Courant vertel van Oom Jan wat al 17 jaar lank vir sy skof as karwag opgedaag het. Hy was daagliks stiptelik om 18:00 buite die restaurant waar hy met ‘n glimlag na klante se karre gekyk het. “Hy het ‘n verhouding met elke personeellid wat hier gewerk het, opgebou. Hy was baie vrygewig met die klein bietjie wat hy gehad het. Hy het graag ‘n geskenkie vir iemand gegee, of dit nou ‘n sjokolade was of babaklere vir iemand wat ‘n pienkvoet verwelkom.”

Vele inskrywings op Facebook onthou ook vir Oom Jan: “Ten spyte van dat hy Afrikaans was en ek Engels het ons mekaar perfek verstaan.” ‘n Ander inskrywing lui, “Jan, rus in vrede. Die aand toe die ambulans jou kom haal het, toe bring ek nog vir jou pynpille, toe was jou oë vol trane van die pyn en daar was ‘n sagte glimlag met die woorde ‘Dankie, ek sien julle later’.” Nog ‘n inskrywing sê, “Dit is so hartseer. Ons was altyd veilig by hom, om nie eers die stories te noem wat hy vertel het nie. RIV Oom. Oom Jan het nie ‘n datum, ‘n verjaarsdag of ‘n nommerplaat vergeet nie, en net so sal ons hom nooit vergeet nie.”

Nicola en Kim Brackenridge beplan ‘n privaat verassing en seremonie ter nagedagtenis aan Oom Jan.

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za

No posts to display