AfriForum se Dink of Sink-span het op 22 Augustus die laaste van ses streeksuitdunne vir Dink of Sink se onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerders by C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein in die Vrystaat aangebied.
Die doel van die kompetisie is om debat in Afrikaans op hoërskool- en universiteitsvak te bevorder, maar op dieselfde tyd, leer die debatteerders eienskappe wat hulle in die toekoms sal gebruik wanneer hulle begin werk.
Altesaam 78 hoërskoolleerders van nege hoërskole in die Vrystaat het aan die debatskompetisie deelgeneem. Die betrokke skole was C&N Sekondêre Meisieskool Oranje, Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Jim Fouché, Grey Kollege Sekondêr, Hoërskool Reitz, Hoërskool Sand du Plessis, Hoërskool Trio, Hoërskool Sentraal en Hoërskool Voortrekker. Elkeen van die spanne het drie debatte oor verskeie onderwerpe met betrekking tot aktuele kwessies in hul omgewing en die land gevoer.

“Dink of Sink se onvoorbereide debatskompetisie skep ’n geleentheid vir sprekers om hul kritiese denkvaardighede te ontwikkel en bied ook die geleentheid om lewenslange vriendskappe te smee. Die onderwerpe was uitdagend maar steeds binne die hedendaagse tiener se verwysingsraamwerk,” sê Renette van der Walt, C&N Sekondêre Meisieskool Oranje se debatorganiseerder.
Hoërskool Jim Fouché se Chenique Erasmus, Josua Deacon en Eben Sander is as die junior kategorie se wenners aangekondig, terwyl C&N Sekondêre Meisieskool Oranje se Miné Truter, Nina Bloem en Ellé Cloete die naaswenners is.
In die senior kategorie het C&N Sekondêre Meisieskool Oranje se Cara Conradie, Bea du Toit en Daniëlle Herbst geseëvier en C&N Sekondêre Meisieskool Oranje se Brigitte von Maltitz, Jacomi van Tonder en Anabelle Laubscher is as naaswenners gekroon.
C&N Sekondêre Meisieskool Oranje se senior span en die Gladdebek Gawies van Hoërskool Jim Fouché dring deur na die nasionale finaal wat op 5 Oktober in Pretoria plaasvind. “Die hoë gehalte van die debatte weerspieël die hoërskoolleerders se toewyding aan hul voorbereiding. Ons sien baie uit vir ’n naelbyteindstryd in Oktober wat gaan bepaal wie die beste onvoorbereide debatteerders in Suid-Afrika is,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.
Saamgestel deur Abigail Visagie