Ontsnapte leeu steeds skoonveld

0
907

Die Vrystaatse departement van omgewingsake het bevestig dat ‘n leeuwyfie wat verlede Vrydag van ‘n plaas buite Bloemfontein ontsnap het, nog nie gevind is nie. Woordvoerder, Kgotso Tau, het aan Bloemfontein Courant gesê die polisie se veediefstaleenheid patrolleer die gebied en inwoners is in kennis gestel van die ontsnapte leeu.

Tau sê die eienaar van die plaas by Vaalbank-Suid, net buite die stad, het verlede week ‘n leeumannetjie saam met wyfies afgekamp, waarvoor daar wetlik voorsiening gemaak is.

’n Geveg het uitgebreek, waarna die mannetjie een wyfie doodgebyt het en 'n ander wyfie, wat later ontsnap het, aangeval het. Hy sê die departement is eers gistermiddag van die voorval in kennis gestel. Die leeuwyfie is sedert die ontsnapping nog nie gewaar nie.

Die identiteit van die plaaseienaar is aan Bloemfontein Courant bekend. Hy kon nog nie vir kommentaar bereik word nie. – Christal-Lize Muller