Ontsnapte gevangene het jong Bfn-meisie se motor se nommerplate gesteel

0
731

Die nommerplate, wat vanoggend op die Corsa-bakkie gevind is wat deur die ontsnapte Goedemoed-gevangene, Theodorus Botha, kort na sy ontsnapping gesteel is, behoort aan ‘n jong meisie van Bloemfontein. Die 20-jarige Micaela van Coller se pa, Mike van Coller, sê Botha, wat ‘n paar uur gelede by die Nasionale Hospitaal in die stad se ingang in hegtenis geneem is, sê hy het gisteroggend gesien sy dogter se Honda Brio se nommerplate is weg. Hulle het vermoed dit is Woensdagaand by Prellerplein gesteel.

Van Coller sê hy het gister nuwe nommerplate vir die motor bestel. Hy het ook nie sy dogter toegelaat om met die motor te ry nie. Volgens hom het hulle skaars vandag die nuwe nommerplate op die motor aangebring, toe die polisie by hul huis in die stad opdaag met die vorige paar nommerplate. Hulle was uit die veld geslaan. Van Coller sê hulle is egter dankbaar dat Micaela nie een van Botha se slagoffers was nie. Botha het na sy inhegtenisneming erken hy het gister ‘n plaaslike argitek by Prellerplein gekaap en toe te voet gevlug nadat sy in ‘n stilstaande voertuig in ‘n parkeerterrein vasgery het.

Van Coller sê Botha kon netsowel sy dogter, wat saam met vriende by ‘n restaurant daar gekuier het, gekaap het. Die gesteelde Corsa-bakkie se oorspronklike registrasienommer FMB 954 FS is vandeesweek wyd deur die polisie versprei nadat Botha en ‘n medegevangene, Johannes Pheko, Dinsdagmiddag ‘n bewaarder by die Goedemoed-gevangenis by Rouxville oorrompel en met sy vuurwapens en bakkie op die vlug geslaan het. Pheko is gistermiddag in hegtenis geneem. – Christal-Lize Muller