Ontsnap alledaagse

0
538
Bestuurder en eienaar van Elude Escape Rooms, Charlize Meintjes. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Jy’s in ‘n donker kamer. Vasgevang. Jou hart klop in jou ore. Jy ervaar engtevrees. Jy’s honderde meter onder die see. En jy’s in groot moeilikheid…
Of miskien is jy dalk net in Dan Pienaar, Bloemfontein.

Welkom by Elude Escape Rooms, sonder twyfel een van die mees unieke en onvergeetlike plekke in Bloemfontein. Die konsep agter die Elude Escape Room is eenvoudig. Groepe mense bevind hul in bizarre omstandighede bymekaar en moet saamwerk om legkaarte en kodes uit te werk en saam te “ontsnap”.

Maar moenie dink dit gaan sommer kinderspeletjies wees nie. Hierdie Escape Rooms is ontwerp om jou brein en saamwerkvermoëns tot die uiterste toe te toets. Dit is waarom die Elude Escape Rooms juis so fantasties werk vir veral korporatiewe spanbou-aktiwiteite.

Elude Escape Rooms in Louw Wepenerstraat bied op die oomblik twee ontsnap-konsepte aan wat bedoel is vir enkelpaartjies tot spanne van soveel as 50 mense. Die een ontsnap-konsep sentreer rondom die Submarine Room wat kompleet lyk soos die binnekant van ‘n duikboot. Sonder om te veel weg te gee, ‘n groep mense word in die Submarine Room, wat in twee gedeel is, toegesluit. Jy word vertel dat die duikboot meganiese probleme opgedoen het en julle is gestrand onder die see. Dan moet die groep stelselmatig een kopkrapper na ‘n ander oplos voordat hulle die oorspronklike bemanning kan kontak en uit hul penarie ontsnap.

Die ander ontsnap-konsep wentel rondom die geheimsinnige Super Agent Room. Maar soos bestuurder en eienaar, Charlize Meintjes, vir ons gesê het, sy kan ons glad nie toelaat om hierdie ontsnap-kamer te sien nie. “Al wanneer ek julle in die kamer kan toelaat, is as julle speel,” het sy verduidelik, wat ons verbeelding net meer aangevuur het oor wat agter daardie enigmatiese deure mag wees.

Die Escape Rooms het ook ‘n buite-area waar besoekers en spanbougroepe kan kies om te braai en ontspan nadat hulle ‘n “noue dood” ontkom het as geheime agent of duikboot-bemanningslid.

Die Elude Escape Rooms bestaan al meer as twee jaar en Charlize, met die ondersteuning van haar man, Bernard, het groot planne om in die toekoms haar ontsnap-konsepte uit te brei en nòg meer vreesaanjaende Escape Rooms aan te bied. So wees gewaarsku!

Vernon Baumann
info@bloemfonteincourant.co.za