Die Henney-familie van Heidedal is definitief nie ‘n familie om mee te mors nie. In die onmiddellike familie is daar vier regsgeleerdes en nog twee in die breër familie.
Dié “firma” van regsgeleerdes bestaan uit Ruwaidah (advokaat), haar broers, Lyndon (prokureur), en Ramon (advokaat), en die nuweling Chané (Lyndon se dogter), wat vandeesweek haar LLB-graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het.
In die groter familie is daar Douglas Henney, ‘n vennoot by die bekende regsfirma, Phatshoane Henney Inc, Robert Henney, ‘n regter by die Hoogeregshof in Kaapstad, asook ‘n tweede nuweling, Monique Titus.
Ruwaidah is ‘n advokaat by Zen Consulting en hou haar ook besig met die Pink Project, ‘n gemeenskapsorganisasie wat veral met die Heidedalse jeug werk. Dan het sy ook ‘n hand in die mediabedryf.
Lyndon werk vir die regering en spesialiseer in eiendomsreg. Ramon was vir lank ‘n staatsaanklaer, maar is nou ‘n streeksbeplanner vir regte by ‘n vooraanstaande maatskappy. Chané, wat 21 onderskeidings in die vier jaar van haar studie behaal het, is nou ‘n kandidaatprokureur by die prokureursfirma Hill, Mchardy & Herbst, waar sy onder die wakende oog van Kobus Verwey werk.
Met soveel regsgeleerdes in een familie sou mens dink dat dit ‘n jarelange familietradisie is, maar in die Henneys se geval was daar geen invloed deur ouers of grootouers nie. Ruwaidah wou bloot in haar ouer broers se voetspore volg, daarom het sy ook regte gaan studeer. Al drie het ‘n groot liefde vir lees, navorsing en leer, en kom uit ‘n huis waar akademie baie belangrik is.
“Hoewel die liefde vir lees en navorsing grotendeels bygedra het tot ons loopbaankeuse, word ons loopbane ook gevorm deur ons verlede,” sê Ramon.
Dit gaan baie goed in hul loopbane en hulle geniet dit baie. “Ons al drie werk so lekker saam en help mekaar daagliks op die regte pad wat nuwe inligting betref,” sê Lyndon.
As ‘n mens reekse soos Suits kyk, dink jy dit is lekker om ‘n prokureur of advokaat te wees, maar die Henneys sê dit verg baie harde werk. “‘n Regstudent moet baie dissipline hê, baie hard kan werk en besef dat jy as mens baie opofferings gaan moet maak. Jy het ook baie ondersteuning van jou familie nodig,” sê Ruwaidah.
“Hulle sê kennis maak jou magtig, maar as jy kenis deel, bemagtig dit almal”. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za
Date:
Ontmoet Bloemfontein se ‘Regte-familie’
Ruwaidah, Chané, Ramon en Lyndon Henney by Chané se gradeplegtigheid.