Ds. STEPHAN VAN HEERDEN
Hierdie tyd elke jaar dink ek aan die lewe wat verby gaan. Die rede hiervoor is dat my ma gedurende November verjaar.
Sy hoor so bietjie moeiliker en die stap word klein bietjie stadiger met korter treetjies. Dit herinner my aan die tyd wat verbygaan.
Ons almal word ouer, tog hanteer ons elkeen dit verskillend. In Psalm 90:12 lees ek: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.” Elke dag behoort ’n leerskool te wees waarin ons meer en meer iets probeer verstaan van die lewe – die psalmdigter noem dit “wysheid”. Dit kry ek en jy alleen as ons elke dag saam met die Here begin.
Dit is om in die woorde van die Psalm dit te kry “in diepe afhanklikheid” van God. Dit is ’n gebed waarin ons vra dat die Here ons liefde sal laat toeneem, sodat ons ’n begrip en fyn aanvoeling kan ontwikkel vir die omstandighede en die mense rondom ons. Die verbygaande jare is dus geleenthede waarin ons kan groei in wysheid en verstaan van die lewe. Hierdie perspektief haal vir ons die ontsteltenis uit ouer word. Skielik begin die jare wat verbygaan, geleenthede word om mekaar te verstaan, beter te verstaan.






