Ons vier Braaidag saam met die Cheetahs

0
897

Ons vier Braaidag saam met die Cheetahs

September bring allerhande lekker dinge na die Vrystaat: ’n Einde aan die bibberende winterkoue, lentebloeisels wat sommer in sulke rye op die sypaadjies staan en natuurlik Nasionale Braaidag! En wat geniet ons Vrystaters meer as om om braaivleisvure te kuier? Get It het besluit om hierdie jaar Braaidag met nóg ’n Vrystaat-gunsteling te kombineer, en so het ons ’n lekker sonskynmiddag om die braairoosters saam met ’n klomp Toyota Vrystaat-Cheetahs deurgebring. Mariné Jacobs vertel van ons (vroeë) Braaidag!

Om te braai vir vyf honger rugbyspelers wat tans ’n Curriebeker-oorwinning voor oë het, is ’n taak wat liefs eerder aan die kenners oorgelaat moet word. Só is die braaiery in die bekwame hande van Charl Strydom, Skoolsjef van die Jaar 2012, en Sjef Lesley Jacobs, direkteur en sjef by Food and Beverage Institute, gelaat. En wat ’n blink plan was dit nie! Heinrich Brüssow, Tewis de Bruyn, Raymond Rhule, Trevor Nyakane en Johan Goosen het behoorlik gesmul aan die lekker disse wat vir hulle voorgesit is

Dié vyf het vrolik by die kuier in hul Cheetah Den gesels – hier word duidelik baie tyd spandeer. “My oupa het my leer braai,” vertel Johan. “Al van kleintyd af, daar op die plaas.” Tewis sê dat hy ook ’n plaasseun is, en daarom is sy gunsteling kos op die kole steeds ’n lekker skaaptjoppie. Raymond voeg vinnig by dat geen braai volmaak is sonder ’n aartappelslaai nie. Op ’n vraag wat die grootste fout is wat jy by ’n braai kan maak, antwoord Heinrich met ’n ernstige gesigsuitdrukking, “Om nie bier by die braai te hê nie.” Die res lag uitbundig vir sy antwoord, maar stem natuurlik ook heelhartig saam. Met sy aansteeklike lag sê Trevor hy gaan beslis nie Nasionale Braaidag misloop nie. “Ek gaan ’n paar biertjies drink en iets aan die brand steek!”

Ek los die klomp om verder te smul en gaan loer ’n bietjie wat op die roosters aangaan. Volgens Sjef Lesley hoef ’n mens nie noodwendig net aan tjops en sosaties te dink wanneer jy ’n spyskaart vir ’n braai beplan nie. “Daar is so baie wat jy kan doen op ’n vuur. Ons het vandag ’n driegangmaaltyd op ’n rooster gemaak,” sê hy. Vir voorgereg is daar knoffel-en-mossel kaasbuns, met ’n reuse fillet-slaai wat kreun onder die sampioene, fetakaas, tamaties, eier, rooiwyn uiemarmelade en nog meer – ’n regte man-slaai! Daarna is dit stokvis met lemoen, olywe, fetakaas en vars vye, asook soetrissie garnale en gebraaide patats met heuning en sesamsade. Vir nagereg is daar ’n smelt-in-die-mond-lekker sjokolade, rum en piesangpakkies met malvalekkers en botterkaramelsous. Natuurlik het die sjefs goedgunstiglik die resepte vir al hierdie heerlike disse met Get It se lesers gedeel!