Ons moet die voorbeeld stel, sê Cheetah-kaptein

0
231
Die Toyota Cheetahs kaptein en Wêreldbeker-wenner, Ruan Pienaar. FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs-kaptein, Ruan Pienaar, het die nuwe jong gesigte in die groep verwelkom wat Woensdag amptelik met hul kontrakte begin het.

Onlangs het die Cheetahs vir George Cronjé, Marcell Muller en Lesley Botha, wat verlede jaar nog op skool was, gekontrakteer, terwyl die skrumskakel, Juan-Dee Oliver, vanjaar matriek voltooi.

Oliver sal egter eers in Januarie by die Cheetahs aanmeld.

Die Springbok, Pienaar, is verreweg die mees senior speler in die span en hy het aan Bloemfontein Courant gesê dat dit vir hom en spelers soos Frans Steyn belangrik sal wees om ‘n voorbeeld te stel. “Dit is nou ons taak as die seniors om ‘n goeie voorbeeld op en van af die veld te wees,” sê hy.

“Ons wil hulle eendag in die groen-en-goud sien, en dit is nou hulle geleentheid om hard te werk en te wys dat hulle het wat nodig is om op ‘n hoë vlak te speel.

“Dit is uiteraard ‘n groot sprong omdat hulle almal nog vars uit die skool is.

“Almal van ons sien uit daarna om saam met hulle te oefen en om hulle beter te leer ken as mense.”

Die tweemalige Wêreldbeker-wenner, Steyn, is die Cheetahs se grootste aanwins van die seisoen en sy kontrak het amptelik ook op Woensdag begin. – MORGAN PIEK