Ons kyk vorentoe

0
871

Hellen Keller skryf die volgende: “Daar is net een ding wat erger is as om blind en doof te wees. Dit is om te kan sien en geen visie te hê nie”.
Die nuwe jaar is reeds goed op dreef en die meeste mense met wie ek praat, is steeds opgewonde oor 2018. Tog is daar ‘n paar wat negatief dink en net die donker oomblikke van die res van die jaar skets.
Ek herinner my aan die nuusbrief van ‘n bekende munisipaliteit met die woorde as opskrif van hul hoofartikel: “Munisipaliteit gereed vir nog ‘n moeilike jaar!” Jy kan dikwels niks doen aan ‘n situasie nie, maar jou manier van dink, bepaal jou reaksie.
Die jaar 2018 kan ‘n steeds negatiewe ervaring vir jou wees, of jy kon al positief begin dink het oor omstandighede en mense wat jou pad kruis. Braam Hanekom skryf in ‘n boek oor visie: “Om met God se oë te kan kyk, moet ‘n mens eers ‘n ander bril opsit – ‘n bril wat jou anders, nuut en helderder na die lewe kan laat kyk.” Is dit nie die woorde van Fillipense 4:4 nie? “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal, wees bly!”
Onmiddellik besef ek dat ek en jy ‘n verantwoordelikheid het om anders te kyk na gebeure en die wêreld waarin ons bly. Watter bril het jy vandag op?

DS STEPHAN VAN HEERDEN