
‘n Groep barmhartige Samaritane het die nuwe jaar in goeie gees begin deur vroeër hierdie week die kinders van Ons Kinderhuis te bederf. Hans Steyn, Shaun Breitenbach en Andrew Truter het besluit om ‘n dag vol pret en leer vir die kinders te organiseer.
Vroeg Dinsdagoggend het die groep die Ehrlichpark-brandweerstasie/museum besoek waar die kinders die stasie verken het en na waardevolle inligting deur Chris van der Walt, oor wat die brandweer alles doen, kon luister. Daarna het die groep ‘n Cheetah-plaas besoek waar hulle naby en persoonlik met die vriendelike katte van Cheetah Experience kon ‘kommunikeer’. Vir die kinders was dit ‘n onvergeetlike ervaring en die opgewondenheid onder hulle was behoorlik aansteeklik.
“Vandag is ‘n prettige dag vir kinders en ons is baie opgewonde om hier te wees,” het Trudy Jamba, kinder- en jeugsorgwerker by Ons Kinderhuis, gesê.
‘n Prettige middag by die Fichardtpark-sportterrein het gevolg, waar die kinders kon speel en saamkuier terwyl hulle bederf is deur Hanlie Blignaut, wat gesorg het vir eetgoed, Gert van Heerden wat in beheer was van die heerlike potjiekos wat die kinders saam kon geniet, en Jeff Folke wat gesorg het dat meer as vyftig kinders almal teddiebere as geskenke ontvang het. Willie Lottering, Japie en Jakes Jacobs het ook bygedra tot die sukses van die dag, terwyl Laura Steyn gesorg het vir bystand in geval van mediese nood.
Pierce van Heerden
pierce@maharebg.co.za