‘Ons is nie almal so nie’ op Kunstefeesverhoog

0
576
Daneel van der Walt vertolk die rol van Gerty.

’n Verwerking van die ikoniese novelle deur Jeanne Goosen, Ons is nie almal so nie, word hierdie week by die Vrystaat Kunstefees opgevoer.
Ons is nie almal so nie open vandag om 16:00 in die Scaena-teater op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Die volgende twee vertonings is op Woensdag 3 Julie om 10:00 en Donderdag 4 Julie om 20:00.
Die stuk handel oor die Van Greunen-gesin wat in die jare vyftig – die begin van apartheid – in Parow gewoon het. In die toneelstuk sien die gehoor die lewe deur die oë van klein Gerty. Sy sien hoe haar ma, Doris, sukkel om ’n huishouding aan die gang te hou nadat haar pa deur die Spoorweë afgelê is. Doris se liefde vir rolprente sorg dat sy werk kry as ‘n plekaanwyser in die rolprentteater.
Deur die skrywer se humor en deernis sien die teaterganger hoe alle mense sukkel om sin te maak van hul identiteit. En waar laat dit die armer deel van die wit gemeenskap, soos Doris en haar vriend Uncle Tank, met hul ywer en medemenslikheid? Daar is vir hulle ook maar min plek in ’n nuwe nasionalistiese bestel.
Die rassisme wat van die bure in die buurt openbaar is kenmerkend van onsekerheid. Wanneer die laaste bruinmense uit die buurt trek, is daar vir die verslae Doris geen ander afskeidwoorde as om agterna te skreeu: “Ons is nie almal so nie”.
Dié stuk is tydloos en met die identiteitskwessies wat so eie is aan ons hedendaagse landskap, is die stuk ’n belangrike bewusmaking van hoe medemenslik Suid-Afrikaners is en hoe swaar ons geskiedenis steeds op ons kollektiewe psige druk.
Ons is nie almal so nie is vir die verhoog verwerk deur die jong, opkomende teatermaker. Mercy Kannemeyer. Daneel van der Walt vertolk die rol van Gerty, die vokaliseerder, maar gee kleur aan al die ander karakters wat beleef hoe die lewe in Parow in die jare vyftig van onskuld na ontnugtering beweeg.
Vir enige navrae, kontak die vervaardiger, Kabous Meiring, by 082-562-2736 of stuur ‘n e-pos aan kcmeiring@gmail.com.
info@bloemfonteincourant.co.za