Ons is lief vir ons ondersteuners – Ndevu

0
Ons is lief vir ons ondersteuners – Ndevu
Luvuyo Ndevu FOTO: CARISTY CUP

Die 2022 Varsitybeker reeks sal Maandag afskop en die opwinding is groot onder die spelers.

Natuurlik is die spelers ongewonde om weer rugby te kan speel, maar die feit dat ondersteuners amptelik hul langverwagte terugkeer na die wedstryde kan maak is waaroor daar in die wandelgange gepraat word.

Die organiseerders het bevestig dat ‘n beperkte aantal ondersteuners teenwoordig mag wees en dat sekere vereistes sal geld.

Toeskouers wat die wedstryde wil bywoon moet vir Covid-19 ingeënt wees en hulle sal bewyse deur middel van ‘n inentingsertifikaat moet lewer om toegang tot die stadions te kry.

“Dit sal vir almal,  van die spelers, die bestuurspersoneel en die toeskouers verplig wees om ingeënt te word om enige Varsitybeker-wedstryd by te woon,” sê Xhanti-Lomzi Nesi, die toernooi direkteur van die Varsitybeker.

“Hierdie beleid is in lyn met SA Rugby se huidige riglyne vir alle amptelike rugbytoernooie in Suid-Afrika.”

Dit sal geld vir all Varsitybeker-, Varsityskild- en Young Guns-wedstryde regoor die land. Slegs 2000 toeskouers sal toegelaat word om rugbywedstryde by te woon.

Vir die ondersteuners van die Universiteit van die Vrystaat se Shimlas sal hulle ‘n bietjie langer moet wag aangesien die Vrystaters in hul eerste wedstryd vir UWC in Belville sal pak. Die CUT Ixias speel op hulle beurt eerste tuis teen UJ.

Die kaptein van die Ixias, Luvuyo Ndevu, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle daarna uitsien om hul lojale ondersteuners met ope arms terug te verwelkom.

“Ek is baie opgewonde en so ook die span. Dit is ‘n nuwe seisoen en die ondersteuners is terug,” sê die woelige flank.

“Daaroor is ons opgewonde en verheug. Ons word deur die mense gevra waar hulle kaartjies kan aanskaf, mag hulle bywoon,ens.

“Ons is baie opgewonde en ons glo dat hulle die rugby sal geniet. Die Varsitybeker is altyd baie lekker om na te kyk en ons is lief vir ons ondersteuners en waardeer hul ondersteuning.”

Bepalings vir rondte een:

14 Februarie 2022

Eagles t. Ikeys, Fanie du Toit Sportsgronde, 17:00; Tuks t. Maties, Tuks-stadion, 19:00; UWC t. Shimlas, UWC-stadion, 19:00; Wits t. Madibaz, Wits Rugbystadion, 19:00; Ixias t. UJ, CUT-stadion, 19:00. – MORGAN PIEK

No posts to display