Onnie se kreatiewe reis met verhale en musiek

0
116
Joanita Erasmus

Joanita Erasmus, oorspronklik van die Diamantstad en vir die afgelope 15 jaar musiekonderwyseres aan die Hoërskool Fichardtpark, se kortverhaalbundel, Reisgenote, is onlangs deur Naledi gepubliseer.

Erasmus is ook ’n navorsingsgenoot van die Universiteit van die Vrystaat (UV). “Ek het aan die UV studeer, waar ek meestersgrade in musiek en kreatiewe skryfwerk asook twee doktorsgrade in Afrikaanse letterkunde verwerf het,” sê sy. Hierdie bundel word deur ‘n CD vergesel waarop sommige van die verhale met musiek deur haar gekomponeer, voorgelees word.

As simboliese reisgenote is enkele gedigte, wat tematies aansluit by die verhale, getoonset. In die aanbieding is daar in meer as een opsig sprake van reisgenote – tematies, maar ook in die gesprek tussen tekste, musikale werke en die kunstenaars wat by die projek betrokke was.Daarom het ek besluit om die boekbekendstelling in die vorm van ’n konsert aan te bied.”

Erasmus vertel dat Reisgenoot, ‘n versameling kortverhale, oorspronklik in 2013 ingedien is as kreatiewe komponent van ‘n meestersgraadstudie. “Die manuskrip het vir ’n hele paar jaar in my kas gelê totdat ek aan die begin van die jaar besluit het om agtergrondmusiek vir die verhale te skryf. “Ek het toe die manuskrip van die hersiene bundel, getiteld Reisgenote, en ’n uiteensetting van wat ek met die musiek beplan het, aan Johan Coetzee van Naledi gestuur, wat die groen lig gegee het,” verduidelik sy.

Volgens haar word sommige van die verhale ook vergesel deur gedigte (waarvan die toonsettings op die CD gehoor kan word) asook tekeninge. “Reisgenote kan dus bestempel word as ‘n ‘Gesamtkunstwerk’ – die produk van ’n kreatiewe proses waarin verskillende kunsvorme gekombineer word om een enkele samehangende geheel te vorm. Al die kunstenaars en tegnici wat by die projek betrokke was (54 in totaal) is persoonlike ‘reisgenote’ (vriende) van my.”

Erasmus het van haar leerlinge by die Reisgenoteprojek betrek het en altwee sanggroepe (seuns en meisies) het liedere wat op die CD gehoor kan word, opgeneem. “Ons skool bied ook jaarliks ’n produksie getiteld Kers, vers en melodie aan. As gevolg van die pandemie kon ons ongelukkig nie verlede jaar konsert hou nie. Aangesien dit ’n hoogtepunt op ons jaarlikse kalender is, het ek besluit om vanjaar my musiekleerlinge en sanggroepe by die bekendstellingskonsert te betrek.”

Lede van die gemeenskap word genooi na ‘n aanbieding gebaseer op Reisgenote, met Klinkklaar, Hoërskool Fichardtpark en Christo Olivier en gespreksgenote Hennie van Coller en Anton Esterhuyse. Dit vind op Donderdag 21 Oktober om 18:30 in die Hoërskool Fichardtpark se skoolsaal plaas.

RSVP voor Vrydag 15 Oktober by joanitaerasmus@gmail.com of 082 886 1888. Covid-19-protokol sal gevolg word.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za