Onderwysers word bedank vir hul waardevolle bydrae

0
5013

CHRISTAL-LIZE MULLER

Die hoeksteen van enige samelewing is ‘n goeie onderwysstelsel. Dit is die mening van die Federasie van Beheerliggame (Fedsas) se adjunkhoof, Jaco Deacon, wat verlede Vrydag saam met leerlinge van die Laerskool Fichardtpark in Bloemfontein onderwysers behoorlik ter viering van Wêreldonderwyserdag bederf het. Wêreldonderwyserdag is ‘n inisiatief van die Verenigde Nasies (VN) wat jaarliks op 5 Oktober oor die wêreld heen gevier word om die belang van onderwysers te beklemtoon.
Volgens Deacon vier Fedsas en die ATKV dié dag egter jaarliks op die eerste Vrydag van die vierde kwartaal omdat Suid-Afrikaanse skole gewoonlik op 5 Oktober vir die vakansie gesluit is.

Deacon meen Wêreldonderwyserdag bied ‘n goeie geleentheid aan skoolkinders, ouers en ander betrokkenes om dankie te sê aan leerkragte vir hul waardevolle rol. "Ek dink enige samelewing in ‘n ontwikkelde en ontwikkelende samelewing kan slegs bestaan as daar mense is wat opleiding gee." Leerlinge van die Laerskool Fichardtpark het Donderdag al hul onderwysers behoorlik bederf deur hulle met lekkernye te verras. Van die onderwysers het pragtige briewe met boodskappe ontvang.

Emsie Lloyd, ‘n gr.1-onderwyser by dié skool, wat die afgelope 13 jaar al duisende kleintjies onder hande gehad het, sê na al die jare is dit steeds vir haar ‘n unieke ondervinding. "Elke klas reageer op sy eie unieke manier op die insette wat ‘n mens lewer." Sy meen ‘n onderwyser word nie opgelei nie; dit is in ‘n mens se bloed. Volgens Rika Stevenson, ‘n gr.3-onderwyser aan dié skool, is daar baie uitdagings in onderwys. "Dit is ‘n groot verantwoordelikheid, maar deur die krag van die Here kan ‘n mens dit doen." Van die leerlinge kon nie uitgepraat raak oor hul onderwysers nie.

Bloemfontein Courant het ook verlede week oudleerlinge van Grey-kollege (sekondêr) gevra oor die rol wat onderwysers destyds in hul lewe gespeel het. Die klas van 1964 het verlede week hul 50ste reünie in Bloemfontein gehou. Een van die groep se onderwysers, Michau Heyns, wat destyds wiskunde gegee het, het ook die geleentheid bygewoon. Volgens hom was dit besonderse ervaring om weer sy eerste standerd ses-groep op die reünie te sien.

Hy is trots op hulle. Jan Muller, skoolkaptein van daardie jaar, sê dit is ‘n groot voorreg om saam met Heyns, wat later ook skoolhoof geword het, te kon kuier. Muller, ‘n afgetrede boer van Wesselsbron sê dit is sy streng onderwysers op skool wat gehelp het om sy menswees te vorm tot wie hy vandag is. Wouter le Roux, ‘n sakeman en boer van KwaZulu-Natal, stem saam. "Ons het in ons tyd baie respek vir onderwysers gehad. Daar was dissipline en daar was geen manier dat jy met dinge kon wegkom waarmee kinders vandag wegkom nie."
christal-lize@centralmediagroup.co.za