‘Ondersteun diegene met ’n geestesafwyking’

0
253
Dr. Mariki Smith FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Hierdie week is Geestesbewusmakingsweek en Bloemfonteiners staan saam om bewusmaking te skep onder die gemeenskap oor dié versteuring.

Op Dinsdag 9 Oktober het dr. Mariki Smith, ‘n sielkundige, tydens ‘n praatjie oor dié onderwerp gesels oor hoe om ‘n geliefde by te staan wat deur dié versteuring geraak word.

‘n Persoon voel nie altyd gemaklik om te erken dat hy of sy so ‘n probleem het en daaroor te praat nie, daarom is ondersteuning en deernis teenoor so ‘n persoon broodnodig.
“Dit is belangrik om balans te vind in hoe jy ‘n persoon bystaan. ‘n Mens moet nie te min van jouself gee deur jou nie daaraan te steur of deur afbrekende woorde en aksies nie, maar ook nie te veel sodat die persoon afhanklik van jou raak nie. Jy moet balans vind tussen die ondersteuning wat jy gee en die deernis wat jy toon,” het Smith verduidelik.

“Natuurlik voel jy as ouer of familielid dalk verantwoordelik vir die persoon wat aan die versteuring ly, maar dit is belangrik dat jy nie jouself blameer nie. Jy moet besef dat jy dit nie kan regmaak nie, maar dat jy deur ondersteuning te bied, reeds baie help en beteken in die persoon se lewe. Dit is ook belangrik om te weet dat elke persoon die siekte anders ervaar en dat simptome van mens tot mens verskil. Dit is dus noodsaaklik om goeie kommunikasie met die persoon te hê, vrae te vra en antwoorde te soek, sodat kan jy daarvan bewus kan wees indien die persoon in depressie verval of manies optree en weet hoe om dit te hanteer.

“Daar is natuurlik woorde en aksies wat ‘n persoon mag of nie mag uiter teenoor die geaffekteerde mens nie. Gebruik woorde soos ‘jy is nie alleen nie, ek is hier vir jou’; ‘ek gee om en ek wil help’ en ‘jy is belangrik vir my’ om die persoon gerus te stel dat daar iemand is vir hom of haar,” het Smith verduidelik.

Sy het afgesluit met die boodskap van Bloem Care en Nurture Health, “Onthou, om gelukkig te wees, help. Help ander, oefen, leer om iets nuuts te doen, speel en groei geestelik.” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za