Ondersteun Bloem se gholfsensasie

0
204
Ellandri van Heerden. FOTO: Caitlen van Heerden

Bloemfontein se tienergholf-sensasie, Ellandri van Heerden, is genooi na die Annika-uitnodigingsbyeenkoms wat deur Rolex aangebied word van 13 tot 16 Januarie 2024 by die Eagle Creekgholfbaan in Orlando, Florida, in die VSA.

Volgens Elrica van Heerden, Ellandri se ma, is sy tans die nommer een junior gholfspeler in Suid-Afrika. “Sy het ’n uitnodiging ontvang van die Hilton Grand Vacation Annika Invitational, aangebied deur Rolex by die Eagle Creek Gholfklub in Orlando. Daar sal vanjaar 72 spelers wees wat om die titel meeding. Hierdie uitnodiging is een van die bestes vir junior gholfspelers om te ontvang,” het Van Heerden gesê.

“Die Annika-stigting het verskeie kompetisies in lande soos Asië, Australië, Europa, Noord- en Suid-Amerika. Ouderdomme van 12 tot 19 jaar sal aan hierdie byeenkoms deelneem,” het sy bygevoeg.

Om Ellandri by te staan met haar uitgawes na die VSA, vra haar ouers die gemeenskap van Bloemfontein om te help met enige vorm van borge of skenkings.

Om Ellandri te ondersteun, kontak Elrica van Heerden by 082-441-7437.

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za