Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het bevestig dat onderrig by dié instituut sedert gister hervat is ná weke van ontwrigting.
Die UV se woordvoerder, Lacea Loader, noem dat onderrig nie in klasse plaasvind nie, maar wel deur ‘n kombinasie van gedrukte en elektroniese lesings, studiemateriaal, leerhulpmiddels, asook via Blackboard.
Dit kom nadat klasse op al drie die UV se kampusse (Bloemfontein, Suid-kampus, Qwaqwa-kampus) gestaak is as gevolg van studentebetogings waarin gratis onderrig geëis word.
Loader sê die universiteit het verder ‘n akademiese herlaai-pakket beskikbaar gestel wat as hulpmiddel dien oor hoe om studente se oorblywende werk vir die jaar asook die komende eksamen te voltooi.
“Goeie terugvoer is tot dusver vanaf studente in verband met dié pakket ontvang. UV-personeel het die afgelope twee weke onverpoosd gewerk om lesings, studiemateriaal en ander leerhulpmiddels voor te berei om te verseker dat die 2016-akademiese jaar wel voltooi kan word.”
Die universiteitsbestuur doen alles in hul vermoë om te verseker dat ‘n atmosfeer geskep word waarin studente op hul studies kan konsentreer. Die universiteitsbestuur is verder tevrede oor hoe alles vandag (1 November) op die kampusse verloop het,” sê Loader.
Rekenaarlaboratoriums, leersentrums en biblitoteke op kampus is vir studente beskikbaar gestel.
Studente sal nou van die gekombineerde metode van onderrig gebruik maak totdat die eksamen op 24 November begin.
Loader sê hulle hou egter steeds die situasie dop om enige ontwrigtings te voorkom wat moontlik kan plaasvind.
-Mark Steenbok