MARINÉ JACOBS
Onkunde is dikwels ’n groter oorsaak van dieremishandeling as armoede. Só het Ernest Tobie, ’n DA-wyksraadslid van Bloemanda informele nedersetting buite Bloemfontein Maandag tydens ’n uitreik deur die dierewelsynsorganisasie, 4Claws, gesê. Volgens Tobie gooi die DA graag hul gewig agter wonderlike inisiatiewe soos 4Claws. “Ek probeer altyd kyk hoe ek mense kan help en omdat 4Claws so goeie inisiatief is, is hierdie die ideale geleentheid om in informele nedersettings die mense te leer om na hul diere te kyk en meer kennis rondom troeteldiere te gee.”
Hierdie uitreik was een van vele wat gereeld deur 4Claws gedoen word en diere-eienaars hul honde kon bring om teen vlooie gedip te word, inentings te ontvang, wonde te behandel en ook kos, leibande, hokke, waterbakke en loopdrade te kry. Ronelle Chrispie, lid van die uitreikspan van 4Claws, vertel dat ongeveer 150 honde op een uitreikdag gehelp word en dat hulle ongeveer drie keer ’n week ’n uitreik doen. “Daar is so baie plekke waar hulp nodig is, jy kan byna enige plek heen gaan,” vertel Chrispie. “Jy kan basies net op ’n plek stop en begin werk en mense sal dadelik hul honde bring.”
Chrispie sê die meeste diere-eienaars waarmee sy werk wel vir hul diere omgee, maar dat dit ’n leerproses is. “Ek kan regtig die verskil sien van twaalf jaar gelede wat ek begin het en nou. Vir baie van hierdie mense is hul honde al wat hulle het. Baie het net nie die kennis om na hul diere te kyk nie en daarom is onderrig vir ons noodsaaklik.”