Ondernemings, skole ook deur waterkrisis geraak

0
2425

Die waterkrisis wat tans in Bloemfontein ondervind word, laat baie mense met die hande in die hare.
Baie gesinne word geaffekteer, maar so ook vele instellings soos skole, restaurante en hospitale.
Bloemfontein Courant het met ‘n paar mense gesels om uit te vind hoe die waterkrisis hul instellings raak.
Leonie Coetzee, prinsipaal van Sunlawns Preprimêre Skool, sê die kleuters is gelukkig gewoond daaraan om hul eie drinkwater skool toe te bring. “Ouers wat swembaddens het, het water vir die toilette gebring. Ons het die kleuters slegs drie toilette laat gebruik en sowat elke uur die toilette met swembadwater gespoel. Ons het ook gister Portaloos gehuur.”
Zoretta Swanepoel besit haar eie spysenieringsbesigheid en sê die waterkrisis is regtig ‘n groot probleem. “Ek werk met kos, en dit moet gaargemaak word. Ek moet ook skoonmaak ná die tyd. Net om water te gebruik laat my voel of ek mors. Ek probeer die sitausie so goed moontlik hanteer.”
Cathy de Gouveia, ‘n suster by Care Day Cinic, het laat weet dat daar reeds ‘n tweede tenk bo-op ‘n oorspronklik tenk geplaas is en dat die brandweer dit volgemaak het.
Daar is ook besigheide in die noorde van Bloemfontein wat moes toemaak weens die krisis. KFC in Currielaan is een van die besighede, maar wou nie kommentaar lewer nie.
Volgens die Mangaungmetro werk hulle hard om die krisis so gou moontlik op te los. Alle inwoners sal op die hoogte gehou word. – Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za