Onderneming sluit 17 maande, betaal steeds salarisse

0
1634
Madelé Croucamp, streekbedryfbestuurder van Teambo

Besighede regoor die land is sedert Maart verlede jaar swaar getref deur die inperking wat deur die Covid-19-pandemie genoodsaak is. Baie van hulle moes moeilike besluite neem om te oorleef, soos om personeel af te dank.

Hoewel meeste van die regulasies steeds geld, is daar tog positiewe dinge wat daaruit gekom het. Die personeel van Teambo Facilitators, ‘n Bloemfonteinse ondernming wat effektiewe en georganiseerde spanbousessies deur gespesialiseerde fasilitering aanbied, was gelukkig om die valbyl van afdankings vry te spring en kan nie genoeg dankie sê aan hul werkgewer dat hul werk behoue gebly het nie.

Teambo moes die afgelope 17 maande hul deure sluit aangesien hulle in die spanboubedryf is en direk met mense werk. Die personeel is egter behou en die onderneming het hul salarisse bly betaal, ondanks die feit dat hulle geen sake gedoen het nie.

Volgens Madelé Croucamp, streekbedryfbestuurder van Teambo, is hul span ontsettend dankbaar teenoor Beukes van Zyl, eienaar van die onderneming, omdat hy hulle bygestaan het en steeds ondersteun. “Ons werkgewer het in dié moeilike tyd al sy personeel behou asook salarisse bly betaal, al kon nie een van ons werk nie. Ek weet nie van enige ander besigheid wat soveel vir hul personeel gedoen het nie. Ons sal altyd dankbaar wees vir alles wat hy vir ons gedoen het.”

Croucamp sê die hele Teambo-span wil Van Zyl bedank vir sy bystand en omgee in die moeilike tyd waardeur almal moes gaan. “Covid het die hele wêreld geruk en tot stilstand gebring. Vir baie besighede het dit die einde beteken en ongelooflik baie mense het hul werk en hul inkomste verloor. Ons is baie dankbaar vir al die opofferings wat ons werkgewer vir ons gemaak het.”

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za