OMS troef vir Eunice in stadsliga-eindstryd

0
1285
Taheera Augousti (links) van Eunice en Germarie Spershott (regs) van Oranje het elk 'n doel vir hul span aangeteken in die spannende eindstryd FOTO: MORGAN PIEK

Hoër Meisieskool Oranje (OMS) het Dinsdagmiddag die reg verdien om te spog toe hulle Eunice in Bloemfontein in die eindstryd van die stadsliga geklop het.

Suid-Afrika se voorste hokkiespan, OMS, het die tweede gekeurde Eunice vir die eerste keer vanjaar getroef met ‘n uitstaande 3-2 sege op Eunice se astrobaan.

Die tuisspan het dié spannende wedstryd vinnig begin met ‘n vroeë doel deur Megan Pelser. Die besoekers het egter sake gelykop gemaak toe Germarie Spershott vir Oranje ‘n doel aangeteken het.

Enkele minute later het Zoe Erasmus vir Oranje die voorsprong gegee met haar doel. Kayla Olivier het in die tweede kwart van die kragmeting vir Oranje ‘n twee-doel voorsprong gegee met haar doel.

Die Eunice-speler Taheera Augousti het kort voor rustyd presies gewys hoekom sy so hoog geag word as ‘n hokkiespeler, met ‘n doel wat sonder twyfel dié doel van die wedstryd was. Dit was egter ook die laaste doel van die kragmeting.

Met dié sege sit Oranje hul ongeëwenaarde rekord in eindstryde voort. OMS se o.18A-span het in 2012 laas in ‘n eindstryd vasgeval.

Vir die breier van Oranje, Morné Odendaal, was dit ‘n emosionele oorwinning aangesien hy aan die einde van die week, ná 10 jaar, die skool gaan verlaat om in Amerika te gaan afrig.

Behalwe vir die moontlikheid dat Oranje die naweek tydens die Super12-reeks moontlik wéér teen Eunice te staan kan kom, was dit sy laaste ligawedstryd teen die teenstanders in groen.

Die beskeie Odendaal het aan Bloemfontein Courant gesê hy is verheug dat hulle vir Eunice kon klop, veral nadat hulle vroeër in die seisoen teen hulle vasgeval het.

“Ek is baie bly dat ons op ‘n hoë noot kon afsluit en ek is ook baie tevrede met hoe die hokkie by Oranje tydens my tien jaar daar gegroei het. Vandag was sonder twyfel een van die beste eindstryde waarin ek tot nog toe betrokke was.  Ek voel dat al die spelers trots kan wees met hulle bydrae in die wedstryd.

“Momentum in sport is ‘n snaakse ding en jy wil dit altyd aan jou kan hê. Vandag se oorwinning sal die spelers baie selfvertroue gee vir die Super12-toernooi. Dit gaan harde werk verg en daar kom baie goeie spanne, maar ek is baie trots op my span se vertoning en hulle het sonder twyfel sake reggestel.”

Orange kom Vrydagoggend om 8:20 te staan teen Durban Girl’s College in hulle eerste wedstryd van die Super12-toernooi, terwyl Eunice om 10:00 sake teen Menlo Park uitspook. – MORGAN PIEK