E Copy

Date:

Omgee is vir ewig vir ma en dogter

MARICELLE BOTHA

Eerskomende naweek is Moedersdag en met dit in gedagte het Courant bietjie gesels met ’n ma en dogter wat saamwerk om ’n verskil in die lewe van ander te maak. Annemarie en Linmari Oberholzer is twee inspirerende dames wat wys dat wanneer vroue hulle kop op iets sit, hulle dit met groot sukses kan doen. Linmari (14), gesels passievol oor die liefdadigheidswerk wat sy en haar ma, Annemarie, al die afgelope drie jaar doen. “Ek sal dit ook eendag met my kinders doen. Ek sal altyd onthou hoe ek en my ma dit geniet en hoe sy my dit leer doen het.”

Annemarie het reeds toe Linmari 10 jaar oud was besef die enigste wyse waarop haar kind die realiteit van die lewe kan ervaar, liefdadigheidswerk is. “Linmari is ons enigste kind en ek voel dit is my plig as mamma om Linmari bloot te stel aan liefdadigheid sodat sy in die eerste plek kan sien dat daar siek en behoeftige kindertjies asook bejaardes daar buite is wat ons nodig het, nou en ook in die toekoms, en dat ons by hulle betrokke moet raak,” vertel Annamarie. Sy sê dit was veral vir haar ’n bevestiging toe sy onlangs van hul nuutste projek, die laerskool Arbeidsgenot waar die grootste deel van die sowat 700 leerders werklik
behoeftig is, terugry om Linmari by haar skool (Oranje Meisieskool) te gaan haal. “Die twee skole is wêrelde uit mekaar.”

Dié ma-en-dogter-paar pak elke jaar ’n verskillende projek aan met die hoop om ’n verskil te maak. “Dit is my verantwoordelikheid as ouer om Linmari bloot te stel en die geleentheid te gee om vir ander om te gee,” sê Annemari op ’n ernstiger noot. Hulle het ook al verskeie kere Universitas Akademiese Hospitaal se kindersale besoek en speelgoed, klere, doeke, lekkergoed, koekies en boeke gaan uitdeel. Dit is gewoonlik groot pret as dié twee hul nar-uitrustings aantrek. “Dit is lekker om dit saam met my ma te doen, veral wanneer ons soos narre aantrek om die kinders te vermaak. Dit is ook lekker om te sien hoe simpel my ma kan wees,” vertel Linmari met ’n groot glimlag.

Hulle vertel dat dit vir hulle daaroor gaan om ’n verskil te maak en ’n glimlag op die kindertjies se gesiggies te sien, maar ná ’n besoek maak hierdie einste kinders eintlik ’n enorme verskil aan hul menswees. “Ons stap altyd daar uit met ’n lied in ons hart en met groot dankbaarheid,” sê Annemarie.  Dié twee het hulle vanjaar tot Arbeidsgenot verbind en beplan talle projekte by die skool. “Die skool het so baie behoeftes; ons sal onsself vir ’n langer periode moet verbind”, vertel Annemarie.
Hulle is reeds hard aan die werk om skoolbanke vir die skool te kry, wol en breipenne in te samel om leerders te leer brei sodat hulle vir hulself handskoene en musse kan brei, asook om bome in te samel om in die lente te plant sodat die skool later koelte op die terrein sal hê.

Enige persoon wat in Annemarie en Linmarie se projek belangstel of betrokke wil raak, kan direk kontak maak met Arbeidsgenot Skool by 051-526-1113.

maricelle@centralmediagroup.co.za

Share post:

Popular

More like this
Related

Free State Premier to deliver annual address at Traditional and Khoi-San Leaders’ House Opening

Free State Premier MaQueen Letsoha-Mathae is set to deliver...

Wanneer ’n Groot Boom Val! – ’n Roerende huldeblyk aan onderwysers

Die invloed van onderwysers op die lewens van hul...

William Hlakoane to receive Honorary Doctorate from CUT

The Central University of Technology, Free State (CUT) will...

Department of Home Affairs unveils major upgrade

The Department of Home Affairs has announced a significant...