Om ‘n droom te bewaarheid

0
961

CATHY DLODLO

Desireé Smith het haar hele lewe lank geweet sy gaan nog eendag ‘n boek skryf. Dit ten spyte van die feit dat sy nou nie juis ‘n boekwurm was nie en die storielyn boonop onbekend was. Maar, sê Smith, sy was gou om vir almal te vertel dat sy nog eendag ‘n boek gaan skryf. Eendag het nie gou aangebreek nie; sy was te besig om saam met haar man ‘n gastehuis in Bloemfontein te bestuur en om vier kinders groot te maak. Tot sowat ‘n jaar gelede.

"Ek onthou goed, ek het uit die badkamer gekom en vir my dogter gesê ek gaan nou begin om my boek te skryf," vertel Smith. Sy sê toe sy haarself eers voor die rekenaar tuismaak, het die storie begin en soos wat sy skryf al hoe meer begin vorm aanneem.
Op ‘n vraag hoekom sy toe uiteindelik reg was om haar droom te vewesenlik, dink sy eers diep. "Ek en my man is na 27 jaar geskei. Dit was vir my ‘n vreeslike skok en vir drie jaar was ek in limbo," verduidelik sy.

Smith sê na drie jaar van skok en verlatenheid het haar dogters haar begin aanmoedig om ‘n stokpertjie te kry wat haar kan besig hou.

Ek het net een oggend opgestaan en onthou hoe graag ek kunsklasse wou neem, maar ek was altyd te besig of daar was altyd een of ander verskoning. Sy begin toe daarmee en stadig het sy weer haar droom onthou – die boek.
Maande later, ná slapelose nagte, het haar eerste boek die lig gesien – Die droom vanne Fairy Girl. Die verhaal speel af op die Kaapse Vlakte en die opsomming lees: "Sy kon dans, hy kon sing, toe loop dans hulle oppie maan, oppie tune ennie song in sy hart".

Smith sê nog twee boeke is op pad. Een is nie net maar ‘n storie nie, maar gaan oor die lewe van ‘n bekende kunstenaar. Verder wil sy nie uitwy nie.

cathy@centralmediagroup.co.za