Die meeste geleerdes is van mening dat om kwaad te word nie noodwendig verkeerd is nie. Hierdie “kwaad word” het egter sy perke en is ook gekoppel aan ’n emosie of ervaring. Kwaad word moet ook goed beskryf word, dit moet op die regte tyd gebeur, die regte inhoud hê
en op die regte wyse geskied. Dit is doodgewoon normaal om soms driftig te raak. Efesiërs 4:26 stel dit ook duidelik dat woede, met ander woorde “kwaad word”, ’n plek in die Christen se lewe het. Hierdie kwaad word gaan ook gepaard met ’n bepaalde gesindheid. In die teks lees ek: “as julle kwaad word, moenie ’n dag kwaad afsluit nie, moenie die duiwel vatkans gee nie”. Liefde en haat is twee kante van die lewe wat uiteindelik die lewe balanseer. Haat help ons om op die ander kant daarvan te fokus, naamlik liefde en die uitleef van liefde. Dit maak ons sensitief vir die mooi kant van die lewe. Om kwaad te word help ons ook weer om onsself te leer ken, ons emosies en ons motiewe. As jy kwaad word vanuit ’n persoonlike oogpunt, dan is dit juis dit wat “kwaad word” ons mee wil help, om ons eie agenda te ondersoek. Om kwaad te word is om jou skadukante raak te sien en weer te besef dat jy en ek vanuit genade leef en dat ons uiteindelik niks het om op te roem nie. Jy word broos en kwesbaar voor die Here se genade!
Ds. Stephan van Heerden
* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale sielkundige.