Om jonk te wees

0
5565

Jeugdag laat my dink aan jonk-wees. Opgewonde en met passie leef, is ’n kenmerk van jonkwees. Dit is ook die tyd waarin jongmense keuses moet uitoefen wat hulle hele lewe raak. ’n Beroep en ’n lewensmaat is van die groot keuses in mense se lewe. Jeugdag het wel ’n bepaalde politieke betekenis, maar dit fokus ons gedagtes weer op die jongmenslewe. Hoe leef jy as jongmens? Hoe kies jy? Wat beïnvloed jou keuses? Die Bybel gebruik die woorde: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?” en dan kom die antwoord, ”deur dit te hou aan U Woord”. (Ek lees dit in die 1933-vertaling). Sulke waar woorde – dit is juis die Bybel wat jou en my help om die regte keuses uit te oefen. Dit is juis die Bybel wat ons help om God se beloftes raak te sien. Dit is juis die Bybel wat ons troos in hartseertye en hoop gee wanneer almal rondom ons al moedeloos geraak het. In die Bybel leer jy en ek God en Sy plan vir ons lewe ken. Moenie toelaat dat die Bybel ’n vergete boek in jou lewe word nie. Jeugdag is ’n dag van herinneringe, maar ook ’n geleentheid vir feesvieringe. Jy behoort aan die Here en Hy is by jou, Hy is by jonk en oud! Geniet egter jou jonk-wees met jou keuses, want gou-gou is dít ook verby!

Ds. Stephan van Heerden

* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale terapeut.