Olly vol lof vir dwelm-optog

0
1916

Die uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, Olly Mlamleli, sê sy is baie beïndruk met die manier waarop die inwoners van Heidedal verlede week se optog teen dwelmmisbruik benader het. Optoggangers het ’n memorandum met eise aan Mlamledi oorhandig. Mlamleli het aan Voice gesê die optog het haar diep geraak, daarom het sy nie omgegee om die optog geldelik te ondersteun nie.
“Heidedal se optog teen dwelmmisbruik was die mees progressiewe optog wat ek in ’n lang tyd gesien het. Die veldtog lê my veral na aan die hart omdat ek self ’n ma is en besef watter skade dwelms aan jong kinders en hul toekoms kan doen,” het Mlamleli gesê. Gregory Werner, voorsitter van die Heidedal- Plaaslike Dwelmaksiekomitee (HPDAK), sê die komitee is bly dat die optog Mlamleli se goedkeuring weggedra het. “Ek dink die burgemeester verwys na die optog as ‘progressief’ oor die ongelooflike eenheid wat op daardie dag onder Heidedal se mense geheers het,” het Werner gesê. Nie almal is egter so opgewonde oor die sukses van die optog nie. Volgens Werner het hy en ander lede van die komitee voor én ten tyde van die optog doodsdreigemente gekry om hulle te dwing om die optog te laat vaar. “Tydens die optog het ’n groep jong mans op die hoek van Devisstraat en Parishlaan in Heidedal my met die dood gedreig. Hierdie naweek is ek weer op Facebook met die dood gedreig deur ’n vrou van Pretoria.” – PIETER DELPORT EN PULANE CHOANE 

pieterd@mahareng.co.za

pulane@centralmediagroup.co.za