Ollie se dogter skitter by tweekampproewe

0
879

RUFUS BOTHA 

Een van die Springbokke se voorste stutte van alle tye, Ollie le Roux, se dogter, Donna, het verlede Dinsdag 'n weghol- (én swem-)oorwinning behaal by die Suid-Vrystaat tweekampproewe wat op die Kovsiekampus in Bloemfontein beslis is.

Ollie was teenwoordig toe Donna (Laer Meisieskool Oranje) in die meisies onder 9-ouderdomsgroep oorwinning gesmaak het met 'n puntetotaal van 2028 en die naasbeste deelnemer, Leané van Eeden (Jacobsdal, 1880 punte), getroef het. In tweekamp hardloop deelnemers eers 'n middelafstandnommer en daarna is dit oor swembad toe om hul staal te toon in 'n kortafstand-swemnommer.

Punte word toegeken volgens hul vertonings. Donna het reeds in die hardloopnommer (800m) gewys dat sy nie van plan was om tweede viool te speel nie en 'n haastige 3:01:36 aangeteken. Sy het 1093 punte vir dié vertoning verdien teenoor Van Eeden se 935 punte vir 'n tyd van 3:37,78. In die swembad het Donna ook geen keer gehad nie en eerste die kant geraak in 42,59 (50 m, 935 punte).

Van Eeden (44,28, 918 punte) was hier ook agter Donna. Die derde plek is ingeneem deur nog 'n meisie van Oranje, Micke de Anrade (1796 punte). Donna, wat Dinsdag Rusland toe gevlieg het vir die wêreld-biathlekampioenskap, het vir seker genoeg van Pa Ollie se veelsydigheid geërf. Ollie het nie slegs 'n bobaas rugbygeskiedenis nie – hy is boonop op skool Suid-Afrikaanse skolekleure toegeken in waterpolo én muurbal.

Sy rugbyprestasies is iets om oor huis toe te skryf – nie slegs as stut nie – hy was eweneens puik as haker. Nadat hy in 1991 gamatrikuleer het aan die Hoërskool Grey-kollege, het hy slegs drie jaar daarna vir die eerste keer vir die Springbokke gespeel. Hy het 54 toetse op sy kerfstok.

Ollie het onder meer ook die Natalse Haaie en Vrystaat Cheetahs in die Curriebeker- en Vodacombekerreekse verteenwoordig en ook vir die Sharks, Cats en Cheetahs in die Superrugbykompetisie uitgedraf. Hy het op uitnodiging vir die Barbarians aangetree en was ook in 2008 'n steunpilaar vir die bobaasklub in Ierland, Leinster.

Ollie se deursettingsvermoë en veelsydigheid is onderstreep toe hy in 2012, kort voor sy veertigste verjaardag, die Ysterman-kompetisie (Port Elizabeth) in 16 uur en 30 minute voltooi het. Hy moes 3,8 km swem, 180 km fietsry en daarna 'n marathon (42,2 km) hardloop (alles aaneen). En dit is geen geringe prestasie vir 'n man wat om en by 130kg weeg nie. 

Courant het Ollie gevra of Donna die hardloop of swemskof in tweekamp verkies. "Interessant genoeg, sy verkies hardloop bo swem," het hy geantwoord. Hy was ook langs die swembad voor Donna se swemskof en het so stil-stil opwarmingswenke gegee. En hoekom nie, want dié yster kán swem. 

• Nicolas Theron was die enigste atleet wat by die proewe die onderskeiding kon behaal om meer as 2300 punte op te stapel. Theron, 'n Springbok-tweekamper van weleer in die seniormansafdeling, neem steeds deel en het in die ouderdomgroep vir mans 40 tot 49 jaar 2308 punte verdien vir sy 1000m-hardloop-skof (3:09:97) en 100m-swemskof (1:08:28).