OWEN KOCK
Hy was bekend daarvoor dat hy teenstanders sonder moeite om stamp en oor hulle hardloop sonder enige geduld, maar deesdae moet die gewese Springbok-stut André-Henri (Ollie) le Roux meer geduld aan die dag lê. Hy is immers nou ‘n boer in murg en been.
“Ja, jy’s reg. Ek was baie ongeduldig op die veld en op die plaas gaan dit ook nog somtyds so, maar elke dag gaan dit beter. Ek druk by tye te hard en wil goed laat gebeur, maar dit werk nie altyd soos ek dit wil hê nie,” sê Le Roux aan AgriEco.
Hy boer buite Bloemfontein met hoender, bees, skaap en vark. Dit is ‘n stimulerende bedryf om in te wees. Hy sê ook spottenderwys die verskil tussen boerdery en rugby is dat minder mense in beheer van jou lewe is, dat net jyself beheer het en dit moet hou. “Ek moet sê ek is geseënd wat die boerdery betref. Na die Wêreldbeker-toernooi in 1999 het Chris Rossouw (oud-Bok haker) se pa gekom en gesê voor ons al ons geld op karre en girls mors, kom ons begin vir julle iets. Ons het toe ‘n kontrak by Supreme Poultry gekry en vandaar kon ons ons besigheid opbou. Ek kon Chris-hulle uitkoop in 2005 toe ek Cheetahs toe kom en vandaar die besigheid laat groei.
“Dis die seën van die Here dat sulke geleenthede op ‘n ou se pad gekom het, en iemand soos Chris se pa wat ons die wysheid gegee het om ons tot fokus te dryf,” voeg LeRoux by. Hy voel wat die ekonomie betref gaan dit maar moeilik. “Die bedryf kan egter nie afskaal nie, want mense moet eet. Al waarvan ons nie hou nie, is die korporasies wat die boer so bietjie seermaak. Daar is ‘n plek vir elkeen op die ou end en tyd saam met die nodige geduld, lei tot geldmaak. Ons kom agter die mense koop minder maar dit beteken dat ons net beter moet boer en dis die uitdaging wat almal in die gesig staar. Kyk, ek sit met ‘n huis vol girls (sy vrou, Mariska, dogters Mia, Chloe en Donna) en hulle wil gevoed word,” vertel hy met ‘n glimlag.
Hy sê hy word ongeloofl ik deur sy vrou en kinders ondersteun in wat hy doen en daarby geniet hulle die plaaslewe. “Die kinders ry quad bike. Hulle kan al motor ry en so nou en dan gaan skiet ons ook so ‘n bietjie. Vir hulle om ‘n klein varkie te kan vashou, is ‘n groot voorreg en dis net ongeloofl ik vir hulle om so te kan lewe. Ek dink nie die stadskind kry daai geleentheid nie.”
En wat druk op die oomblik in die boerdery? “Ons kom agter die banke sukkel om ouens te finansier, geld is skaars en dis die grootste uitdaging op die oomblik, hoe om die besigheid te laat groei.”