Olivier staan sy man by nasionale kampioenskap

0
828
Ruan Olivier tydens sy halfeindstryd teen JP Brits by die Brooklyn Mall in Pretoria FOTO: REG CALDECOTT

Ruan Olivier van Bloemfontein het sy man gestaan tydens die 2020- Nasionale Muurbaltoernooi wat verlede week by die Brooklyn Mall in Pretoria gespeel is.

Olivier het nie net vir die eerste keer in sy loopbaan vir die kwarteindronde van die toernooi gekwalifiseer nie, maar het ook die eindstryd bereik en in die proses die verdedigende kampioen, JP Brits, die trekpas gegee.

Olivier is nou wel nie as nasionale kampioen gekroon nie, maar het steeds beïndruk met sy akkurate en oorheersende spel.

Dié Vrystater, wat in Kaapstad woonagtig is, het in die kwarteindstryd teen sy oefenmaat, Mighael Lombard van WP, te staan gekom en ligte werk daarvan gemaak om die wedstryd met 3-0 (11-6, 11-2 en 11-7) te wen.

In die halfeindstryd het die 26-jarige Olivier teen Brits te staan gekom en hy is deegliker getoets, maar het nogtans met taamlike gemak die kampioen uitgeskakel met ‘n 3-1 (11-5, 7-11, 11-9 en 11-7) oorwinning.

Hy het dus sy plek in vir die eerste keer in sy loopbaan in die eindstryd bespreek waar hy koppe met die tweede gekeurde Christo Potgieter gestamp het.

Olivier was in ‘n uitstekende posisie om die titel te beklink nadat hy in ‘n stadium met 2-1 (8-11, 11-7 en 2-11) voorgeloop het, maar sy 33-jarige teenstander, Potgieter, se jarelange ondervinding het op net die regte tyd gesorg dat hy die laaste twee potte wen vir ‘n 3-2 (8-11 11-7 2-11 11-3 11-8) sege.

In die vroue-afdeling het Hayley Ward van die Oostelike Provinsie, wat die streektoernooi die vorige week in Bloemfontein gewen het, ook heel goed gevaar en die halfeindronde bereik. In haar kwarteindstryd het sy Danell Douglas van Noordwes met 3-2 (7-11, 11-7, 11-5, 8-11, 11-7) geklop.

In die halfeindstryd het sy egter teen die eerste gekeurde Alex Fuller van die Kaap met 3-0 (11-2, 11-3, 11-4) vasgeval. Fuller het in die eindstryd met 3-0 (11-8 11-6 11-5) oor die tweede gekeurde Lizelle Muller geseëvier. – MORGAN PIEK