Olivier blink uit in fietsry

0
2882
RUFUS BOTHA

Die tenger fietsryer van die Laerskool Willem Postma, Chanté Olivier, loop oor van talent en indien sy haar belangstelling behou, is haar toekoms in dié sportsoort met rose besaai.

Dit het Olivier Saterdag wéér bewys toe sy by die Hoërskool Fichardtpark se padfietswedren in Bloemfontein algeheel eerste geëindig het in die 20km-wedren met ‘n haastige 37:10.

Olivier, wat vanjaar in die o.12-ouderdomsgroep meeding is gevolg deur Adéle van der Walt wat in die proses die eerste vrou by die eindpunt was in die ouderdomsgroep 40 jaar plus. Die o.16-ryer, Ryan van Zijl was algeheel derde.

Nie minder nie as 237 jaers van so ver as Newcastle, Pretoria, Potchefstroom en Kuruman het opgedaag om aan die byeenkoms deel te neem en in die langste wedren van die dag (106 km) het 116 deelnemers hulle fiksheid getoets.

Die puik jaer in die ouderdomsgroep vir mans 40 jaar plus, Norman Bester, het eerste (2:39:36) oor die eindstreep in die 106km gejaag. Hy is deur die elite-jaer, Karl Krause, gevolg terwyl die vuurwarm junior jaer van die gasheer (Fichardtpark), Waylin Young, in ‘n goeie derdeplek geëindig het. Die tandem-afdeling is deur Dirk en Rinus Maarsingh gewen nadat hulle algeheel tiende was.

Die 60km-wedren is deur die o.23-jaer, Janus van Wyk, in ‘n mooi 1:24:35 gewen. Hy is deur nog ‘n elite-jaer, Brent Botha, gevolg en die o.16-ryer, Ben Brits, het derde klaargemaak.