GEORG VAN ECK
Van Suid-Afrika se voorste Olimpiese internasionale padfietsryers asook bergfietsryers sal Saterdag en Sondag in Bloemfontein wees vir die 12de MTN-OFM Classic, terwyl duisende besoekers ook die Cycle Expo Vrydag en Saterdag sal bywoon. Vanjaar begin en eindig die MTN-OFM Classic-wedrenne by die middelpunt van Vrystaatse sport, die Vrystaat-rugbystadion in Bloemfontein. Die groot trekpleiser vanjaar by Sentraal-Suid-Afrika se grootste wedren gaan ongetwyfeld die deelname van Suid-Afrika se Olimpiese sterre, Ashleigh Moolman-Pasio, Robyn de Groot, Joanna van de Winkel en Cherise Taylor wees. Behalwe die Olimpiese ryers sal Yolandi du Toit van die Biz Hub-span ook in aksie wees. Baie van bogenoemde vroue is voormalige kampioene van die MTN-OFM Classic.
Onder die mans is verskeie internasionale ryers in aksie. Reinhardt Janse van Rensburg en Arran Brown van die MTN-Qhubeka-kontinentale span kan stywe teenstand van veral lede van die Bonitas-kontinentale span Johannes Kachelhoffer, Ian McLeodm Johan Rabie, Luthando Kaka, Tyler Day en Christopher van Heerden verwag. Onder dié ryers is ook voormalige kampioene.
Fietsry is dus hierdie naweek koning met Suid-Afrika se Olimpiese sterre asook verskeie vorige MTN-OFM Classic-kampioene in aksie. Vorige wenners van die MTN-OFM Classic-padren keer terug om vanjaar oor ’n uitdagende 107 km mee te ding en vir minder ernstige ryers is daar ’n wedren van 35 km. Die padwedrenne vind Sondag plaas en meer as 3 800 deelnemers het reeds ingeskryf.
Die bergfietswedrenne Saterdag word oor uitdagende roetes van 65 km en 25 km aangebied. Ook hier het reeds bykans ’n duisend deelnemers ingeskryf en in die hoofwedren, waar daar tye geneem sal word, gaan die medediging taai wees.
Die gewilde Leefstyl en Fietsry-ekspo vind Vrydag en Saterdag by die Windmill Casino en Vermaaklikheidsentrum in Bloemfontein plaas. Daar sal ook gelukkige prystrekkings en ook twee Merida-fietse te wen wees op wedrendag.