Oliewenhuis-kunsmuseum vier 25ste verjaardag

0
2777

Maricelle Botha
Oliewenhuis is ‘n historiese landmerk wat ryk is aan geskiedenis en hoewel dit reeds sedert 1942 op Grand’s Hill pryk, is dit eers sowat 25 jaar gelede in die volwaardige kunsmuseum omskep wat dit vandag is.

Vandeesmaand vier hierdie geliefde kunsmuseum sy 25ste bestaansjaar en Donderdag het nuwe en oubekende gesigte bymekaar gekom om hierdie besonderse mylpaal te vier.

Na ‘n lang veldtog vir die oprigting van ‘n kunsmuseum deur plaaslike kunsliefhebbers het voormalige staatspresident PW Botha op 19 Julie 1985 Oliewenhuis aan die Nasionale Museum oorhandig met die doel om dit in ‘n kunsmuseum te omskep. Verskeie strukturele veranderings en aanpassings is gemaak om die bestaande gebou in ‘n geskikte omgewing vir die bewaring en uitstalling van kunswerke te verander. Op 11 Oktober 1989 is Oliewenhuis-kunsmuseum amptelik geopen as ‘n satelliet van die Nasionale Museum. Die kunsmuseum spog deesdae met die nuutste tegnologie vir hierdie doeleindes.

Volgens Linda Malan wat in beheer van bewaring van kunswerke by die museum is, het die kunsmuseum destyds slegs sowat 300 werke in sy permanente versameling gehad. Vandag spog hulle met meer as 1 400.

"Oliewenhuis is eintlik nog ‘n relatief jong museum in vergelyking met die Johannesburg-kunsmuseum en selfs die William Humphrey- kunsmuseum in Kimberley. "Ek dink ons het baie goed gevorder wat ons versameling betref. Ons koop voortdurend kuns aan sodat die geskiedenis van kuns in Suid-Afrika goed verteenwoordig is in ons versameling," vertel Malan. Sy voeg by dit is veral die vroeë werk in die permanente versameling wat haar na aan die hart lê.

Die kunsmuseum bied elke jaar ‘n groot verskeidenheid tentoonstellings wat strek van kinderkuns tot meer ernstige en uitdagende kontemporêre uitstallings.

Ester le Roux, kurartor van die kunsmuseum, sê dit is belangrik vir hulle dat mense hier tuis voel en met die twee toekennings wat hulle onlangs in Courant se Best of Bloemfontein-kompetisie gewen het, is dit weer eens ‘n bewys dat Bloemfonteiners besonder trots is op hierdie museum.

maricelle@centralmediagroup.co.za