Oktober is vir rose

0
986

RISNA OPPERMAN

Volgens Langenhoven is Oktober die mooiste, mooiste maand. Hy gesels verder oor viooltjies en ander welriekende blomme. Ek is seker as hy in die Vrystaat gebly het, het hy gepraat van rose. Die Vrystaat is by uitstek geskik vir die plant van rose. Die wintertemperatuur is koud genoeg en die somer is net droog genoeg om die rose se kleur dramaties en helder te maak. Vir rose om op hul beste te blom, is daar ’n paar basiese riglyne wat ’n mens moet volg:

  • Rose verkies 4 tot 5 ure son per dag.
  • Plant dit met goeie kompos, bietjie beenmeel en superfosfaat. Plant in ’n groot genoeg gat sodat die wortels met gemak kan groei. Verkieslik vierkantig, so ’n half by half meter groot.
  • Rose moet 3 keer per week diep water kry – die water moet ten minste 30 cm diep kan gaan om die wortelstelsel geleentheid te bied om dit op te slurp.
  • Rose moet voeding kry tydens die groeiseisoen – Neutrog Bounce Back of Vigorosa een keer elke vier tot ses weke is ideaal. Gee so ’n handvol per roosplant – strooi rondom en maak goed nat. Vir ekstra oemf kan vloeibare organiese kunsmis soos Biotrossil elke twee weke gespuit word. (Hierdie voedingsprogram sal natuurlik alle blomdraende struike se blommedrag verbeter.)

Rose word om verskeie redes geplant. Die mees logiese is seker vir pragtige blomme deur die jaar, maar mense plant ook rose as herinnering aan sekere mense of gebeurtenisse in hul lewe. ’n Mens hoor gereeld: my ouma het hierdie roos vir my gegee, of, ons het dit geplant met my oudste dogter se troue. Die hedendaagse besige tuinier kan met gemak rose plant, want daar is ’n groot verskeidenheid eko-chic (sogenaamde maklike rose) op die mark. Hierdie reeks rose vereis geen moeite nie, blom oorvloedig en is bestand teen fungus-siektes. Daar is pragtige nuwe variëteite op die mark beskikbaar wat aan hierdie kategorie rose behoort. Die Panarosa-reeks brei uit met Sympa de Bellevue (pragtige dieprooi roosbolle) en Purple Lodge, Burgundy Panarosa en Demalogica Passion is welriekend en pragtig. Die dieppienk My Dunay wat Kurt Darren vir sy vrou laat kweek het, ruik wonderlik en sal jou tuin laat sprankel. Dan is daar Wedding Bells wat groot blomme dra met ’n pienk/wit skakerings wat so skouerhoogte groei. Daar is eintlik té veel om op te noem – doen jouself liewer die guns en kom loer in by Roses for U waar ons duisende rose nou begin blom. Kom kies die roos waarmee jy jou tuin gaan ophelder of jou eie familietradisie kan begin.