OFM groet ‘n groot gees

0
6247
Die uitvoerende hoof van Central Media Group, Gary Stroebel, en Albé Grobbelaar.

OFM, soos vandag bekend, se heel eerste uitsending het uit die SAUK-gebou in Bloemfontein plaasgevind op Maandag 1 Julie 1985 om 18:30 die aand. Amptelik was dit in daardie stadium nog bekend as “Die Bloemfonteinse Uitsendings van Radio Hoëveld”, en was dit eintlik niks meer as ‘n senderskeiding nie.
Hierdie aanduitsendings uit Bloemfontein het ses maande geduur, tot einde Desember 1985. Op 1 Januarie 1986 het die “plaaslike” aandprogramme van Radio Hoëveld voldag-uitsendings geword en is die nuwe radiostasie, Radio Oranje, (vandag bekend as OFM) amptelik gebore.
Die eerste paar voltydse personeellede, wat alles in plek moes kry vir die nuwe radiostasie, is teen Mei 1985 aangestel. Hulle was die hoof, Christo Olivier, die advertensie-bestuurder, Bill Otto, wat van Radio 702 in Johannesburg af gekom het, Albé Grobbelaar, programbestuurder, en Johan Dreyer, wat in beheer van bemarking en promosies was.
As mens vir Albé vra wat vir hom ‘n hoogtepunt was, vertel hy dat die talle suksesvolle gemeenskaps-projekte, vasvraprogramme, fondsinsamelings vir liefdadigheid, musiekfeeste, die Radio Oranje-sangtalent-kompetisie, die Radio Oranje-Sportster van die Jaar, die Radio Oranje-musiekversamel-albums (eers langspeelplate en later CD’s), en dan sonder twyfel, die daaglikse uitsendings van Manie Kitching, alles deel was van sy loopbaan.
Nie net was Grobbelaar betrokke by OFM nie, maar is hy vir die afgelope nege jaar ook dosent aan die Vrystaatse Universiteit, waar hy mediastudies en joernalistiek doseer. Hy was nog altyd lief vir lees en vir geskiedenis. Goeie rolprente en televisiereekse is ook van sy voorkeure. Hy verklap dat hy baie lief is vir musiek en graag brug speel met ‘n paar vriende. Motorfietsry is vir hom lekker, én hy gaan graag see toe.
Sy weeklikse rubriek in Bloemfontein Courant – een week in Afrikaans (STORIESMOUS) en die volgende week in Engels (TALES, TRUTHS & TIRADES) – beskou hy as ‘n wonderlik kreatiewe uitlaatklep.
Grobbelaar het ‘n vrou en ses kinders (een dogter en vyf seuns). Hulle is ‘n baie hegte familie wat slegs oor één kwessie in twee kampe verdeel is: Selfone. “Ek en drie van my seuns is iPhone- en Apple-manne, en my vrou, ons dogter en die twee ander seuns verkies Samsung. ”
“Ná meer as dertig jaar van direkte betrokkenheid by OFM, waarvan hy die laaste twintig jaar lid van die direksie was, het hy besluit om terug te staan. “Daar is ‘n tyd om te kom, en ‘n tyd om te gaan, lui die ou spreekwoord. Dit is darem net koebaai en nie vaarwel nie.” -Jeretha Oosthuizen 
jeretha@mahareng.co.za