As die westelike gedeeltes van die land nog reën kry, kan oessyfers van somergewasse ondanks verlede week se oesskattings, verbeter. Dit geld selfs vir mielie-oeste van 2012. Só sê Wessel Lemmer, senior ekonoom by Graan SA, in reaksie op oesskattings van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye wat verlede week in Pretoria bekendgestel is.
Die department het ‘n daling teenoor die eerste skatting van vroeë vanjaar vir mielieproduksie voorspel. Die geskatte produksie vir mielies gaan vanaf 11,7 miljoen ton tot 11, 3 miljoen ton daal. “Ons is baie bekommerd oor die droogtetoestande wat in hierdie stadium heers. Ons produsente het vir die afgelope sewe weke geen reën gekry nie,” sê Lemmer.
Maar klimatoloog, Johan van den Berg, bly positief oor die verwagte mielie-oeste. Hy sê mielies is laat verlede jaar aangeplant wat ‘n positiewe invloed kan hê. Hy voeg by dat hoewel die heersende La Niña-klimaatverskynsel verdwyn en kanse vir reën verswak, is dit nog nie neusie verby vir ‘n redelike goeie mielie-oes nie. Van den Berg sê: “Daar moet onthou word dat daar groot gebiede is wat genoeg reën gekry het om te verseker dat die oeste nie heeltemaal tot niet is nie.”
‘n Daling in veral mielies sal waarskynlik die prys van Suid-Afrika se stapelvoedsel die hoogte laat inskiet. Dit kan veral armes, wat reeds onder werkloosheid gebuk gaan, verder negatief beïnvloed. Ander oesskattings is: Witmielies (6, 5 miljoen ton), Geelmielies (4,7 miljoen ton), Sonneblomsaad (514, 890 ton), Sojabone (720 500 ton), Grondbone (62 240 ton), Sorghum (138 825 ton) en droëbone teen 47 315 ton.
‘n Bekende mielieboer van Noordwes en die Vrystaat, Jub Jubelius, stem saam dat dit te vroeg is om al die mielie-oeste se skade vanweë droogte te bepaal. Hy weet veral boere suid van Kroonstad het skade gely. Phillip Theunissen, bekende landbou-ekonoom, sê met die swak vooruitsigte vir vanjaar se oes, sal boere ook meer staatmaak op hul veefaktor. Dit is ‘n manier om hulle finansieel aan die lewe te hou. Theunissen sê verder is dit belangrik dat boere in die Oos-Vrystaat diversifiseer, want veeboerdery en gewasse kan mekaar ondersteun.
Koos Blignaut, bestuurder van Profert in Noordwes, sê droogteskade op die mielie-oes in dié provinsie word tussen 25% en 35% geskat. Droogteskade neem daagliks toe en was die algemene gevoel dat die mielie-oes met honderdduisende ton kan krimp as nóg ’n week sonder wydverspreide reën sou verloop.