Oberholzer wil VS trots maak in Tokio

0
255
Carla Oberholzer FOTO: WAYNE HANSCOMBE/ JETLINE ACTION PHOTOS

Die Vrystaatse fietsryer, Carla Oberholzer, wil die provinsie trots maak wanneer sy van dié week af Suid-Afrika verteenwoordig by die 2020- Olimpiese Spele in Tokio, Japan.

Oberholzer, wat deesdae in Clarens in die Oos-Vrystaat woonagtig is, is een van twee oud-Bloemfonteiners wat Suid-Afrika  verteenwoordig in die padfietskompetiesie by die Olimpiese Spele.

Die ander deelnemer is Ashleigh Pasio-Moolman, wat deesdae in Spanje woon. Oberholzer sowel as Pasio-Moolman het by Eunice in die stad gematrikuleer.

Die 34-jarige Oberholzer, wat onlangs vier goue medaljes tydens die Afrika Kontinentale padkampioenskappe in Egipte gewen het, het uit Tokio aan Bloemfontein Courant gesê dat sy die Vrystaat wil trots maak wanneer sy in Tokio deelneem.

“Sover het alles nog glad verloop. Ná ‘n baie lang reis na Japan het ons gewoond geraak aan die tydsone en alles begin in plek val.

“Oor die volgende paar dae sal ons die laaste voorbereidings doen vir die padfietsrywedren wat Sondag  plaasvind.

“Dankie vir al die ondersteuning. Ons sien uit daarna om die Vrystaat te verteenwoordig op die wêreldverhoog.”

Oberholzer neem vir die eerste keer deel aan die Olimpiese Spele, terwyl Pasio Moolman in 2012 ‘n 16de plek in Londen beklee het. Sy het egter in 2012 die bronsmedalje gewen in die padwedren vir vroue. – MORGAN PIEK