Nyabanyaba gereed om Twee Oseane-titel te verdedig

0
758
RUFUS BOTHA

Die langafstandatleet van die Weermag in Bloemfontein, Antony Nyabanyaba, het Saterdag by die kwarteeufees van die Kloppers / Adidas- marathon (42,2 km) wat Nedbank Bloemfontein Achilles in die Rosestad aangebied het gewys dat hy slaggereed is om sy titel die in die Twee Oseane-ultramarathon suksesvol te verdedig.

Die 61-jarige Nyabanyaba het verlede jaar die gewilde Twee Oseane-wedloop die afdeling vir mans 60 tot 69 jaar gewen in 4:22:15. Soos hy Saterdag vertoon het, gaan hy moeilik gestuit word om vanjaar dié titel suksesvol te verdedig.

Hy het Saterdag die 42,2 km in ‘n puik binnelandse 3:06:40 die wentjek in sy afdeling in sy sak gesteek.

‘n Individuele inskrywing, Piet Mpheteng, het die algeheel eersteplek in die marathon in ‘n goeie 2:26:54 behaal. Hy is gevolg deur Zwene Moreng (Transnet, 2:27:09) en Johannes Mantswe (Mangaung AC, 2:30:48).

Die Vrystaatse voorste vrouelangasem, Paulina Njeya (Nedbank RC), het die ope afdeling vir vroue beklink in ‘n skitterende 2:51:39. Sy was verlede jaar by die einste Twee Oseane-wedloop die eerste Suid-Afrikaanse vrou oor die eindstreep toe sy algeheel vyfde geëindig het. Haar vertoning Saterdag dui daarop dat sy vanjaar weer onder die voorste tien vroue by die Twee Oseane-ultrawedloop kan eindig.

Een van die beste vertonings by die Kloppers / Adidas-byeenkoms het gekom van die Kovsies se uitmuntende stapatleet, Chauke Mthembu. Hy het die halfmarathon (21,1 km) in ‘n kookwatertyd van 1:33,02 afgestap, vier minute vinniger as die wenner van die ope afdeling vir vroue.

Die 10km-wedloop vir mans is gewen deur Khotatso Mokone (Kovsies, 30:16) terwyl Annah Moeketsi (Transnet, 39:39) nie veel moeite ondervind het om eerste te eindig in die vroue-afdeling nie.